Nuus 08:00
BULLETIN 24 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie is op soek na verdagtes ná die moord op twee toeriste in die Krugerwildtuin
# AZAPO sê burgers kan nie veilig voel te midde van bewerings oor senior polisiebeamptes se bande met misdaadnetwerke nie
# En: ‘n Verdagte is doodgeskiet nadat hy op ‘n Geheime Diens-kontrolepunt buite die Withuis losbrand
# Polisie in Limpopo soek na verdagtes nadat twee toeriste in die Krugerwildtuin vermoor is. Polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê ‘n 71-jarige man en sy metgesel het verlede Sondag by ‘n kamp in die park aangekom en is Woensdag laas gesien. Hulle liggame is Vrydag in die Levubu-rivier gevind:
# AZAPO sê Suid-Afrikaners kan nie veilig voel te middel van bewerings oor senior polisiebeamptes wat met misdaadnetwerke in die land verbind word nie. Woordvoerder, Nosipiwo Manona, sê ‘n polisiediens waar hooggeplaaste polisiebeamptes by korrupsie betrek word, kan nie gewone burgers op grondvlak doeltreffend beskerm nie. Sy sê vyf-duisend sterftes binne slegs drie maande is nie bloot ‘n statistiek nie, maar ‘n nasionale tragedie:
Intussen waarsku die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, die vlakke van geweldsmisdaad in die provinsie is steeds onaanvaarbaar hoog. Die jongste polisie-misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar toon moorde in die provinsie het met 8-persent afgeneem, vanaf een-duisend-68 gevalle tussen Januarie en Maart 2025, tot 983 gevalle in dieselfde tydperk vanjaar. Winde sê die meeste moorde is as gevolg van bendegeweld wat ‘n ernstige bron van kommer is:
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het ‘n grootskaalse soektog aangevra na die verdagtes in ‘n gewapende roof en huisbraak by die woning van voormalige minister Naledi Pandor in Pretoria. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê drie gewapende verdagtes het Vrydagaand toegang tot die perseel verkry en die gesin met vuurwapens gedreig voor hulle die huis deursoek en met waardevolle items gevlug het. Sy sê die polisie werk onverpoos om die verdagtes op te spoor en aan te keer.
# ‘n Verdagte is Saterdagaand in Washington DC doodgeskiet nadat hy op Geheime Diensagente in die strate rondom die Withuis losgebrand het. Volgens ‘n verklaring deur die Amerikaanse Geheime Diens het ‘n man op sy agente in die omgewing van 17de Straat en Pennsylvanialaan begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en die verdagte getref, wat later in die hospitaal dood verklaar is. Geen Geheime Diensagente is beseer nie, maar ‘n omstander is getref. CBS het sedertdien berig die verdagte was Nasire Best, ‘n 21-jarige man wat reeds aan die Geheime Diens bekend was.
# En motorsport: Die Brit George Russell spring vandag eerste weg in die Kanadese Grand Prix met sy Mercedes-spanmaat Kimi Antonelli langs hom. Die twee McLarens van die huidige wêreldkampioen, die Brit Lando Norris, en die Australiër Oscar Piastri is in die tweede ry. Die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton begin vyfde, met die viermalige wêreldkampioen Max Verstappen sesde. Russell het vroeër die snelren uit die voorste wegspringplek gewen met die kampioenskaps-voorloper Kimi Antonelli derde. Antonelli het tydens die snelren op die spanradio gekla oor ‘n insident tussen hom en Russell, met Mercedes-spanbaas Toto Wolff wat uiteindelik die tiener moes aanspreek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….