Nuus 09:00
BULLETIN 17 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vermeende baas van ‘n renosterstropery-sindikaat, Joseph Nyalungu, is in Mpumalanga doodgeskiet
# Die Regterlike Dienskommissie verduidelik regter Belinda Hartle is nie geskors nie, maar word ondersoek
# En, die NSRI waarsku oor gevaarlike getye by Robberg-strande
# ‘n Voormalige polisiebeampte en die vermeende meesterbrein agter ‘n renosterstropery-sindikaat, Joseph Nyalungu, is in Mpumalanga doodgeskiet. Nyalungu is volgens berigte by sy onderneming naby Mkhuhlu-kruispad aangeval skaars ‘n week nadat hy ‘n vorige skietery op dieselfde plek oorleef het. Die omstrede vermeende onderwêreldfiguur het in en om die Krugerwildtuin gewerk. Daar was verskeie aanklagte teen hom oor renosterstropery, georganiseerde misdaad en plofstof. Die polisie het nog nie arrestasies bevestig nie, en die ondersoek na die moord duur voort.
# Die leier van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, sê die party is vasbeslote om te help om Johannesburg as ‘n funksionele en florerende stad te herstel. Tydens die bekendstelling van die party se burgemeestersveldtog in Soweto het Hlabisa Johannesburg beskryf as Suid-Afrika se ekonomiese spilpunt en toegangspoort tot die vasteland. Hlabisa sê as Johannesburg werk, sal die land se ekonomie ook verbeter. Hy het bygevoeg dat die IVP hulpbronne, leierskap en mannekrag wil fokus op die verbetering van dienslewering:
# Die Regterlike Dienskommissie sê die Oos-Kaapse Hooggeregshofregter Belinda Hartle is steeds in haar pos terwyl die ondersoek voortduur. RDK-woordvoerder Sesi Baloyi sê berigte wat anders beweer, is verkeerd. Sy sê slegs president Cyril Ramaphosa het die gesag om ‘n regter te skors na hy ‘n aanbeveling van die kommissie ontvang het. Baloyi het aan SABC Nuus beklemtoon die RDK het ‘n tribunaal aanbeveel om bewerings teen regter Hartle te ondersoek:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut vra strandgangers om uiters versigtig te wees langs Robberg-strande in Plettenbergbaai weens buitengewoon hoë getye. Die NSRI sê nuwemaan-springgetye het gevaarlike toestande geskep, vererger deur onlangse oorstromings wat ernstige strand-erosie en onstabiele sandwalle veroorsaak het. Owerhede raai die publiek aan om getye noukeurig te monitor en gevaarlike gebiede langs die kuslyn te vermy. Die waarskuwing kom terwyl nooddienste voortgaan om skade te evalueer na die slegte weer verlede week.
# Sokker: Orlando Pirates se hoop op die Premierskap-titel het gister ‘n terugslag gekry ná ‘n gelykop-uitslag met geen doele teen Durban City op die Orlando-stadion. Pirates het oorheers met balbesit en verskeie kanse gehad maar Durban City se verdediging en sy doelwagter Fredrick Asere was te goed. Die uitslag beteken hulle is twee punte agter die voorlopers Mamelodi Sundowns. Afrigter Abdeslam Ouaddou sê sy span moet die laaste wedstryd teen Orbit College wen om hulle hoop op ‘n titel lewend te hou:
# En ten slotte: Gholf: Ten spyte van ‘n uitdagende eerste nege putjies het Gerhard Pepler ‘n voorsprong van twee houe na ‘n derde rondte van 17 onder baansyfer, 72, by die Pro-Am-toernooi by Irene Country Club. Met die laaste rondte vandag gaan Pepler onder druk wees van sy landgenote Christiaan Burke, Jaco Prinsloo en die Wallieser Jack Davidson, wat almal top 15 onder baansyfer die tweede plek deel. Die 26-jarige Pepler is steeds die gunsteling en hoop op ‘n tweede loopbaanoorwinning op die Sonskyntoer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….