Nuus 09:00
BULLETIN 1 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Minerale Bronne kies ‘n Kanadees-Suid-Afrikaanse konsortium om ‘n mynlisensie-stelsel te ontwikkel
# Die DA dring aan op onafhanklike teenkorrupsie-kommissie
# En gholf, die PGA-toernooi onthul ‘n vennootskapsooreenkoms om spelers te beloon wat LIV teenstaan
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie het ‘n Kanadees-Suid-Afrikaanse konsortium gekies om ‘n nuwe myn-lisensiëringstelsel te ontwerp, te implementeer en in stand te hou. Die Mineraleraad van Suid-Afrika beraam daar is ‘n agterstand van meer as drie-duisend aansoeke vir prospekteer- en mynregte, met ‘n beleggingswaarde van meer as 30-miljard rand. PMG Consortium is ‘n groep van drie maatskappye, die Kanadese groep, Pacific GeoTech Systems, en twee Suid-Afrikaanse maatskappye, MITS Institute en Gemini GIS and Environmental Services. Die departement sê die uitwissing van die agterstand sal mynbou-ontginning ’n hupstoot gee.
# Die DA sê dis nou belangriker as ooit dat ‘n onafhanklike teenkorrupsie-liggaam gevestig word om korrupsie en kaderontplooiing te beveg. Volgens die jongste korrupsiepersepsie-aanwyser kry Suid-Afrika 41 uit ʼn moontlike 100, sy swakste plasing ooit. Glynnis Breytenbach van die DA sê hierdie vlak van stygende korrupsie in Suid-Afrika kan regstreeks toegeskryf word aan die ANC se sistemiese insypeling in die openbare sektor en kaderontplooiing:
# Effens koeler nagtemperature het slegs geringe verligting gebring vir brandbestryders wat talle brande in Worcester, Wolseley en Rawsonville in die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit bestry. Daar is tans nege brandweervoertuie en bemanning, en ʼn bykomende 65 bemanningslede op die grond by die toneel. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel vir vandag temperature hoër as 38-grade Celsius wat ʼn uitwerking op brandbestrydingsaktiwiteite sal hê:
# Meta se uitvoerende hoof, Mark Zuckerberg, het tydens ʼn verhoor van die senaat-regskomitee gesinne wat sê hulle kinders is deur sosiale media kwaad aangedoen, regstreeks verskoning gevra. Dit sluit gevalle van selfdood in. Die uitvoerende hoofde van Meta, Snap, TikTok, X voorheen bekend as Twitter, en Discord is deeglik deur senators ondervra oor die aanlyn beskerming van kinders. Zuckerberg, wat Instagram en Facebook bestuur, het aan die gesinne gesê hulle sal deur die hele bedryf voortgaan met pogings om skadelike inhoud op hulle platforms te beperk. Die kongres moet nog betekenisvolle wetgewing aanvaar om sosialemedia-maatskappye te reguleer.
# Gholf: Die PGA-toernooi het ʼn ooreenkoms van sowat 56-miljard-rand gesluit met Strategic Sports Group, gelei deur die premierligaspan Liverpool se eienaars, Fenway Sports Group. Spelers wat lojaal gebly het aan die toernooi en nie toegegee het aan die Saoedi-ondersteunde LIV Gholf nie, gaan onmiddellike en toekomstige aandele van 28-miljard-rand ontvang. Die fondse sal aan spelers beskikbaar gestel word volgens loopbaanprestasies, onlangse suksesse en deelname in die toekoms. Die wêreld se voormalige nommer een, Jordan Spieth, sê hierdie belegging kan die PGA-toernooi in sy sterkste posisie ooit plaas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-en-40-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-45-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….