Nuus 09:00
BULLETIN 3 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die leier van National Coloured Congress beskuldig polisie van intimidasie
# Amerika onttrek vyf-duisend van sy troepe wat in Duitsland gestasioneer is
# En tennis: Marta Kostyuk van Oekraïne verslaan Mirra Andreeva en wen haar eerste Madrid Ope-titel
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het die polisie van intimidasie en onwettige gedrag beskuldig na ‘n klopjag op sy vorige huis in Mitchells Plain, Kaapstad. Adams beweer beamptes met kopmusse en sonder enige identifisering het die verkeerde adres geteiken en kon nie ‘n lasbrief voorlê nie. Hy beweer die inwoners is gedreig, met ‘n kind wat na bewering aangerand is. Adams sê hy is bereid om met die owerhede saam te werk, maar het die wettigheid van die operasie bevraagteken:
# Die polisie in Vosloorus het bevestig dat die 27-jarige spaza-winkeleienaar, Mazwi Kubheka, wat ‘n maand gelede as vermis aangemeld is, veilig gevind is. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê Kubheka het homself gisteraand by die Vosloorus-polisiestasie aangemeld. Hy sal na ‘n mediese ondersoek met sy familie herenig word. Die polisie sê die omstandighede rondom sy verdwyning bly onduidelik en die ondersoek duur voort. Sy het die publiek daaraan herinner om vermiste persone onmiddellik aan te meld:
# Die Pentagon het aangekondig die Verenigde State gaan vyfduisend troepe aan sy NAVO-bondgenoot Duitsland onttrek namate die geskil tussen president Donald Trump en Europa oor die Iranse oorlog toeneem. Trump het vroeër met die optrede gedreig nadat hy en die Duitse kanselier Friedrich Merz stry gekry het. Merz het gesê het die Iraniërs verneder die VSA in die vredesgesprekke en dat hy nie sien watter uittree-strategie Washington volg nie. Duitsland is die tuiste van sowat 35-duisend Amerikaanse militêre personeel, meer as enige ander plek in Europa.
# Sokker: Durban City FC is as die 2026 Nedbankbeker-kampioene gekroon met prysgeld van sewe-miljoen-rand na ‘n 2-1 oorwinning oor TS Galaxy by die nuwe Peter Mokaba-stadion in Polokwane, Limpopo. Mfanafuthi Mkhize het die telling in die tweede helfte gelyk gemaak voordat Jean Lwamba die wendoel aangeteken en vergoed het vir ‘n vroeëre eiedoel. Dit is die klub se eerste groot trofee en bring ‘n einde aan KwaZulu-Natal se 17 jaar lange droogte. Die tussentydse afrigter Pitso Dladla het die span geprys vir hul harde werk:
# Tennis: Marta Kostyuk van Oekraïne haar eerste WTA 1000-titel verower toe sy die Russiese tiener Mirra Andreeva met 7–5, 6–3 in ‘n histories eindstryd by die Madrid Ope verslaan het. Die 26ste gekeurde Kostyuk was kalm onder druk teen die 19-jarige, in ‘n wedstryd wat gekenmerk is deur kliniese afslane en aggressiewe voetlynspel. Dis is Kostyuk se derde loopbaantitel en haar eerste op die elite 1000-vlak. In vanmiddag se manseindstryd kom die wêreldnommer-een, Jannik Sinner van Italië, teen Alexander Zverev van Duitsland te staan.
# En ten slotte, die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het Suid-Afrikaners aangespoor om inskrywings vir die Wêreldbeker-ondersteunerskompetisie in te dien voor die sluitingsdatum vandag om 5 nm. Twintig wenners sal ‘n volledig betaalde reis na Mexiko wen om Bafana Bafana se 2026 Wêreldbeker-openingswedstryd te kyk. McKenzie sê ‘n geldige paspoort is verpligtend, met wenners wat na verwagting onmiddellik na Dinsdag se aankondiging met visumaansoeke sal begin. Wenners word daaraan herinner dat ‘n Mexikaanse toeristevisum, reisversekering, bankstate vir visumdoeleindes en persoonlike sakgeld die wenner se eie verantwoordelikheid bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….