Nuus 09:00
BULLETIN 2 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die Amerikaans-Israelse aanvalle op Iran is ‘n skending van internasionale wette
# Raymond Parsons sê die Iran-oorlog kan ’n uitwerking op Suid-Afrika hê
# En twee sterf in ‘n Rovos Rail-ontsporing in Namibië
# Die ANC veroordeel Amerika en Israel se gesamentlike aanvalle op Iran en sê die toenemende vyandelikhede het ernstige humanitêre, diplomatieke en ekonomiese gevolge. Die Midde-Ooste het die afgelope twee dae deurgeloop onder militêre aanvalle en wraakaanvalle, waarin Iran se opperleier, ajatolla Ali Khamenei, dood is. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê daar kan geen blywende militêre oplossing wees vir basiese politieke konflikte nie:
# Suid-Afrika moenie die negatiewe ekonomiese gevolge en dié vir sakeondernemings onderskat wat die Amerikaans-Israelse aanvalle op Iran moontlik vir baie lande kan inhou nie. Dit is die mening van professor Raymond Parsons van die Noordwes-universiteit. Sedert die aanvalle het oliepryse wêreldwyd skerp gestyg. Parsons sê die jongste geopolitieke verwikkelinge het belangrike vrae laat ontstaan oor die toekomstige bestendigheid van die Midde-Oosterse politieke ekonomie:
# ’n Ondersoek is begin nadat ’n luukse Rovos Rail-trein op pad van Windhoek, Namibië, na Suid-Afrika ontspoor het. Twee mense is in die voorval dood. Die ongeluk het op die TransNamibië-netwerk gebeur wat luukse oorgrensdienste tussen die twee lande bied. Rovos Rail sê in ’n verklaring die ongeluk het plaasgevind omdat die laaste vak van ’n brug weggespoel het. Twee lokomotiewe en twee nutswaens is beskadig. Dit volg ná swaar reën in die suide van Namibië.
# Ekurhuleni se stadsbestuurder het die Openbare Beskermer gevra om ’n omstrede opleidingstender van die Menslike Hulpbronne-departement te ondersoek. Die metro het in November 2023 ’n opleidingstender aan Buena Vista Learning Academy toegeken wat aan Tsakane Baloyi behoort. Sy staan tans bekend as Tsakane Matlala, vrou van die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi ‘Cat’ Matlala. Die tender was aanvanklik vir 66-duised-rand, maar het intussen gestyg tot meer as drie-miljoen-rand. Die metro-woordvoerder, Phakamile Mbengashe, sê dit volg na prima facie-bewyse by die Madlanga-kommissie:
# Krieket: Die mede-aanbieders van die T20 Wêreldbeker, Indië, het die Wes-Indiese Eilande in hul laaste Super Agt-wedstryd in Kolkata met vyf paaltjies verslaan om ‘n plek in die halfeindronde te verseker. Roston Chase het 40 vir die Windies aangeteken in hul mededingende 195 vir vier in hul 20 beurte. Sanju Samson het in antwoord daarop ‘n onoorwonne 97 van 50 balle gemoker en die verdedigende kampioene tot ‘n oorwinning aangevoer, met vier balle oor. Indië speel Donderdag in Mumbai teen Engeland in een van die halfeindstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-798-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-363-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….