Nuus 09:00
BULLETIN 3 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party veroordeel Paul O’Sullivan en Brown Mogotsi se weiering om voor die ad hoc-komitee te verskyn
# TLU SA verwelkom die jongste brandstofprysverlagings
# En swem: Callan Lötter word as die gunsteling beskou in die Midmar-myl se vroue-afdeling
# Die MK-party veroordeel die privaat forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan en die sakeman Brown Mogotsi se weiering om voor die Parlement se ad hoc-komitee te verskyn weens beweerde kommer oor hul veiligheid. O’Sullivan, wat tans oorsee is, sê hy kan nie hierheen reis nie weens doodsdreigemente. Mogotsi het die Parlement gevra om vir sy persoonlike beveiliging te betaal as hy moet verskyn. Die MK-party sê niemand is bo die wet verhef nie en elkeen wat voor die komitee gedaag word, moet dit gehoorsaam.
# Die landbou-organisasie TLU SA verwelkom die aansienlike brandstofprysdaling wat die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne aangekondig het. Albei grade petrol daal met 65-sent per liter terwyl diesel tot 57-sent per liter minder sal kos. Dit bring die petrolprys op sy laagste vlak in vier jaar. Bennie van Zyl van TLU SA sê die daling bring groot verligting in die landbousektor se insetkoste:
# Die ANC-jeugliga in Gauteng sê hy ondersteun die amptelike erkenning van die Gautengse beamptes vir misdaadvoorkoming – algemeen bekend as die amaPanyaza – as vredesbeamptes. Meer as nege-duisend bewaarders is Vrydag tot vredesbeamptes verklaar. Palesa Molefe van die Jeugliga sê in ‘n provinsie wat met die drievoudige uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid worstel, is dié ingryping ‘n gewaagde en noodsaaklike stap vir ekonomiese geregtigheid:
# Die Verenigde Nasies se Verligting- en Werkagentskap vir Palestynse Vlugtelinge sê die beperkte heropening van die Rafah-kruising in die suide van Gaza word met optimisme en vrees afgewag. Die kruising was sedert Mei 2024 hoofsaaklik gesluit nadat Israelse magte die Gaza-strook ingeneem het. UNRWA-woordvoerder Sam Rose het aan die BBC gesê daar is mededingende kragte aan die werk in die konflik tussen Israel en Hamas:
# Swem: Verlede jaar se naaswenner, Callan Lötter, is die gunsteling om die vroue-afdeling van hierdie naweek se Midmar-myl in KwaZulu-Natal te wen. Catherine van Rensburg is nie terug om haar titel te verdedig nie, en het besluit om eerder vir die Senior Nasionale Kampioenskappe voor te berei met die doel om te kwalifiseer vir vanjaar se Statebondspele in Glasgow, Skotland. Lötter is die nasionale oopwaterkampioen oor die 1,5 kilometer-, vyf kilometer- en tien kilometer-afstande. Meer as 12-duisend swemmers sal na verwagting aan vanjaar se byeenkoms deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-482-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-819-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….