Nuus 09:00
BULLETIN 16 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA blameer die regering se mislukking om onwettige sigarethandel te bekamp vir die sluiting van British American Tobacco se aanleg in Suid-Afrika
# Cosatu ondersteun minister Creecy se oproep vir ‘n totale verbod op drink-en-bestuur
# En die Venezolaanse opposisieleier María Corina Machado gee haar Nobel-vredesprysmedalje aan Donald Trump
# ActionSA het kommer uitgespreek oor British American Tobacco South Africa se besluit om teen die einde van die jaar nie meer sigarette in Suid-Afrika te vervaardig nie. Hy gaan sy vervaardigingsaanleg in Heidelberg, Gauteng, sluit en sê beleidsmislukkings en die onwettige sigaretmark maak wettige vervaardiging ekonomies onmoontlik. Sowat 230 werksgeleenthede word bedreig. ActionSA sê BATSA se besluit is ‘n regstreekse gevolg van die regering se versuim om onwettige tabakhandel te bekamp en sy eie belasting- en doeanewette toe te pas.
# Die vakverbond Cosatu verwelkom die minister van Vervoer, Barbara Creecy, se voorstel dat die Nasionale Verkeerswet gewysig word om drink en bestuur heeltemal te verbied. Die minister het kommer uitgespreek oor die skerp toename in bestuurders wat oor die feestyd weens dronkbestuur gearresteer is. Die syfer het met 144-persent toegeneem teenoor die vorige jaar. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê ʼn totale verbod op drink en bestuur, insluitend vir voetgangers, moet dringend ingestel word:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê 14 van Limpopo se 19 damme is nou meer as 100-persent vol na aanhoudende swaar reën. Die Modjadji-, Nsami-, Glen Alpine- en Ebenezer-damme is onder dié wat geraak word, met verskeie damme wat water laat uitloop om vlakke te bestuur. Wisane Mavasa van die Departement het inwoners aangespoor om waaksaam te wees aangesien hoë watervlakke steeds risiko’s vir gemeenskappe en infrastruktuur inhou:
# Die Venezolaanse opposisieleier, María Corina Machado, sê sy het tydens ʼn privaat ontmoeting by die Withuis haar Nobel-vredesprysmedalje aan president Donald Trump oorhandig. Sy het die toekenning verlede jaar ontvang vir haar stryd teen die outoritêre regering van president Nicolás Maduro. Trump het op Truth Social gesê dit was ʼn wonderlike gebaar van wedersydse respek. Machado het aan joernaliste gesê die mense van Venezuela kan op Trump staatmaak:
# Gholf: Die wêreld se nommertwee-speler Rory McIlroy van Noord-Ierland het sy 2026-seisoen sterk begin en loop met een hou voor by die Dubai-uitnodigingstoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate na ‘n openingsronde van vyf-onder 66. Die Skot Connor Syme en die Spanjaard David Puig is saam in die tweede plek. Die verdedigende kampioen van Engeland, Tommy Fleetwood, is drie plekke verder terug in ‘n gelykopstryd om die negende plek, saam met onder meer die Amerikaner Patrick Reed en Shane Lowry van Ierland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-443-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-600-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….