Nuus 09:00
BULLETIN 22 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die verkiesing moet oor geloofwaardigheid gaan
# Ron DeSantis beëindig sy presidensiële veldtog en steun Donald Trump
# En gholf, Rory McIlroy wen die Dubai Desert Classic vir ‘n rekord vierde keer
# As die publiek se frustrasie in ag geneem word met die korrupsie en onbevoegdheid wat Suid-Afrika se potensiaal wegvreet, is dit nie ‘n verrassing dat politieke partye sal probeer om oplossings aan kiesers te bied nie. Dit is die mening van die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela. Politieke partye praat gedurig oor korrupsie en die behoefte aan etiese leierskap by openbare instellings. Mkhabela sê in ʼn meningstuk vir News24 die werklikheid is dat enigiemand die belofte kan maak om ontslae te raak van korrupsie en onbevoegdheid, maar vir ʼn kieser wat kan onderskei, gee geloofwaardigheid die deurslag.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het besluit om ‘n loodsprojek vir studente-huisvesting by 17 universiteite en 23 TVET-kolleges vir die 2024 akademiese jaar van stapel te stuur. Die proses sal verseker dat diensverskaffers studente-huisvesting verskaf wat toeganklik, ordentlik, veilig en bevorderlik vir studie vir alle studente is. Die skema se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê hulle het reeds die lys van al die geakkrediteerde huisvestingverskaffers in elke instelling op kampusvlak versprei waar beddens beskikbaar is:
# Die DA in Johannesburg sê nog ʼn verwoestende brand in die middestad bevestig die dringende behoefte aan voorkomende maatreëls. Twee mense is gister dood en vier ander beseer in ʼn brand in ʼn woonstelgebou in Commissionerstraat. Michael Sun van die DA sê die stad moet dringend aandag gee aan die kwessie van geboue wat onwettig beset word omdat dit ʼn groot bedreiging inhou:
# Florida se goewerneur, Ron DeSantis, het sy veldtog vir die Republikeinse presidentsbenoeming laat vaar en ondersteun nou oudpresident Donald Trump. Dit is in aanloop tot môre se voorverkiesing in New Hampshire. Hy het verlede week in Iowa se Republikeinse koukusse tweede gekom. DeSantis se onttrekking laat die voormalige goewerneur van Suid-Carolina, Nikki Haley, as enigste alternatief vir Trump. DeSantis sê dis duidelik dat die meerderheid Republikeinse kiesers vir Trump nog ʼn kans wil gee en dat hy die enigste een is wat president Joe Biden kan verslaan.
# Gholf: Die verdedigende kampioen Rory McIlroy het die Dubai Desert Classic met een hou gewen om die eerste speler te word wat die toernooi vier keer kon wen. Adrian Meronk van Pole was tweede en die Amerikaner Cameron Young, wat Sondag as voorloper begin het, twee houe minder in die derde plek. Die 34-jarige McIlroy van Noord-Ierland se oorwinning volg nadat hy verlede naweek by die Dubai-uitnodigingstoernooi die naaswenner was. McIlroy sê hy sien nou daarna uit om gereed te maak vir vanjaar se Majors wat in April met die Meesters begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-en-7-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….