Nuus 09:00
BULLETIN 2 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Madlanga-kommissie se aanbevelings sal geïmplementeer word
# Die Grensbestuursowerheid het meer as seweduisend mense gedurende Desember voorgekeer
# En, ondersoek word ingestel nadat ‘n brand Amsterdam se historiese Vondelkerk in puin lê
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners verseker die aanbevelings van die Madlanga-kommissie van ondersoek sal ten volle geïmplementeer word. Hy het die kommissie in Julie verlede jaar tot stand gebring om misdade, politieke inmenging en korrupsie in die strafregtelike stelsel te ondersoek. Die president het verlede maand die kommissie se tussentydse verslag ontvang, wat nie bekend gemaak sal word nie. Ramaphosa het in sy Nuwejaarsboodskap gesê die kommissie se aanbevelings sal help om vertroue in die integriteit van die polisie te herstel:
# Die Grensbestuursowerheid en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, het sedert 10 Desember gesamentlik meer as seweduisend mense onderskep wat onwettig probeer het om die land binne te kom. Die meeste hiervan was Zimbabwiese burgers wat die Groblersbrug-grenspos onwettig wou oorsteek. Kommissaris Mike Masiapato het aan die SABC gesê die grensposte by Beitbrug, Lebombo en Lesotho is kwesbaar:
# Die polisie in KwaZulu-Natal het ‘n soektog begin na vier verdagtes wat Woensdagaand vier gesinslede in Mdweshule, Port Shepstone, vermoor het. Volgens polisiewoordvoerder Paul Magwaza het die gewapende verdagtes ‘n vrou en haar verloofde in ‘n rondawel aangeval. Hy sê drie van die mans het vuurwapens gehad, en die ander een ‘n kapmes:
# ‘n Ondersoek is aan die gang om die oorsaak te bepaal van die brand wat in die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag deur die historiese Vondelkerk in Amsterdam versprei het. Die brand het dele van die toring en dak laat ineenstort en gelei tot ontruimings en kragonderbrekings by ongeveer 90 nabygeleë huise. Volgens berigte is die struktuur waarskynlik deur vuurwerke getref. Die kerk is in 1872 opgerig en is ‘n belangrike toeriste-aantreklikheid. Dit kyk uit oor Amsterdam se beroemde Vondelpark.
# Krieket: Die eerste SA20-gelykopuitslag ooit het gelei tot ‘n opwindende superbeurt op die Wanderers, waar die Joburg Super Kings die Durban Super Giants voor ‘n stampvol Nuwejaarsdag-skare verslaan het. Francois Du Plessis was die beste kolwer met 47 met die gashere wat 205 vir vier in hul 20 boulbeurte aangeteken het. Die besoekers het geantwoord met 205 vir die verlies van agt. Die Durban Super Giants het eerste in die superbeurt gekolf en kon slegs vyf lopies aanteken. Rilee Rossouw het egter twee grenshoue in drie balle geslaan en ‘n oorwinning vir Joburg Super Kings verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-722-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-374-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….