Nuus 09:00
BULLETIN 10 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê verkiesings weerspieël steeds die wil van die mense
# Die VF Plus is bekommerd oor die heraanstelling van ‘n lugmagmajoor wat weens haatspraak ontslaan is
# En Australië se sosialemedia-verbod tree in werking
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrikaners moet trots wees dat die land die afgelope drie dekades vrye en regverdige verkiesings gehou het. Hy het gisteraand in Boksburg, Gauteng, die hoofrede gelewer by die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes se aanvaarding. Die land maak gereed vir volgende jaar se munisipale verkiesing. Ramaphosa sê verkiesings weerspieël die wil van die mense en voeg by demokrasie is diep gewortel in die samelewing:
# Die Vryheidsfront Plus sê dis kommerwekkend dat ‘n lugmag-majoor wat in 2018 weens ernstige haatspraak afgedank is, minder as ʼn jaar later weer aangestel is. ʼn Ondersoek het majoor Vincent Mohlala skuldig bevind na ʼn inskrywing op sosiale media wat hy in 2018 ná die moord op professor Cobus Naudé gemaak het. Wouter Wessels van die VF Plus sê Mohlala is in Mei 2018 uit die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontslaan, maar in 2019 weer aangestel. Wessels sê Mohlala se gedrag is ʼn ernstige skending van weermaglede se gedragskode.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se regering slaag nie daarin om die ekonomie aan te dryf om ondernemings te stimuleer en volhoubare werksgeleenthede te skep, of die endemiese korrupsie in die provinsie aan te spreek nie. Die raad het die 2024/2025-jaarverslae vir verskeie departemente, insluitend die Kantoor van die Premier, Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Landbou, bespreek. Mike Moriarty van die DA sê Lesufi se gebrek aan visie strek verder as net gebeure wat aandag trek, en plaas inwoners in ‘n slegter posisie as voorheen:
# Australië het vandag die eerste land geword om ‘n minimum ouderdom vir die gebruik van sosiale media in te stel, met platforms soos Instagram, TikTok en YouTube wat gedwing word om meer as een-miljoen rekeninge te blok. Dit sal na verwagting wêreldwye regulering veroorsaak, met tien van die grootste platforms wat Australiërs jonger as 16-jaar-oud moet blokkeer of met tot 562-miljoen-rand beboet word. Die wet het hewige kritiek by groot tegnologiemaatskappye en voorstanders van vryheid van spraak ontlok, maar ouers en kinderkampvegters verwelkom die besluit. Regerings van Denemarke tot Maleisië beplan soortgelyke stappe.
# Sokker: Die vyfmalige kampioene Barcelona het Eintracht Frankfurt met 2-1 geklop en daarmee hul hoop versterk om die Kampioeneliga-uitklopfase te bereik. Die oorwinning gee Barcelona tien punte in ses wedstryde. Dominik Szoboszlai se laat strafskop het Liverpool ‘n 1-0 oorwinning oor Inter Milan gegee, met die Reds wat terugbeweeg na die top agt. Chelsea se hoop om outomaties vir die uitklopfase te kwalifiseer, is ‘n knou toegedien toe Atalanta van agter gekom het om met 2-1 te wen. Daar was ook oorwinnings vir Atletico Madrid, Tottenham Hotspur en Monaco.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-538-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-207-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….