Nuus 09:00
BULLETIN 6 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie betuig sy meegevoel met die familie van die vermoorde getuie
# AfriForum gaan voort om internasionale bewustheid te skep oor onteiening en diskriminerende beleid
# En rugby: Die Stormers klop Bayonne in die Kampioenebeker
# Die Madlanga-kommissie het sy diepste meegevoel betuig aan die familie van Getuie D wat gisteraand in Brakpan, Ekurhuleni, doodgeskiet is. Getuie D, in die media geïdentifiseer as Marius van der Merwe, het voor die kommissie getuig teen die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en beweer dat hy ‘n toesmeerdery van ‘n moord en die storting van ‘n liggaam beveel het. Die woordvoerder van die kommissie, Jeremy Michaels, sê die kommissie wil graag Van der Merwe se bydrae tot die ontbloting van ernstige bewerings van misdaad en korrupsie in die Stad Ekurhuleni en die Metropolisie erken.
Die MK-party sê intussen die regering van nasionale eenheid se versuim om individue wat voor die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee verskyn, te beskerm, is ‘n duidelike verraad van geregtigheid. MK-party-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die sluipmoord is ‘n vingerwysing na die regering:
# AfriForum sê Europese steun vir Suid-Afrika se minderheidsgemeenskappe groei namate bewustheid van misbruike deur die ANC-regering toeneem. Die burgerregte-organisasie het die Europese Parlement ingelig oor plaasmoorde, eiendomsbedreiging en diskriminerende beleid. Ernst van Zyl van AfriForum sê hulle veldtog onder die titel ‘Die wêreld moet weet‘ is daarop gemik om wêreldwye aandag te vestig op menseregteskendings en die beskerming van Afrikanergemeenskappe en -erfenis:
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika sê die mynbedryf het verlede jaar meer as vyf-miljard-rand bestee aan die opleiding van werknemers en jeugdiges. Byna 860-duisend opleidingsessies is gehou, en meer as 51-duisend gemeenskapslede, insluitend nagenoeg 36-duisend jongmense, het vaardigheidsopleiding ontvang. Die bedryf het ook die afgelope vyf jaar beurse van meer as een-miljard-rand toegeken. Allan Seccombe van die raad sê veiligheid het verbeter met net 42 sterftes, die laagste ooit, terwyl vroue nou 21-persent van mynwerknemers verteenwoordig, ‘n teken van bestendige vordering.
# Die familie van die 17 mans wat tans in die oorlog in Oekraïne vasgekeer is, het die regering gevra om te help om hulle terug te bring huis toe. Die families het gister ‘n betoging buite die Durbanse Stadsaal gehou en regeringsingryping geëis, terwyl hul seuns hommeltuie aan die Oekraïnse frontlinie jag. Die mans is in Julie vanjaar deur persone gewerf wat na bewering gekoppel is aan die MK-party om by die Russiese magte aan te sluit in hul oorlog teen Oekraïne.
# En rugby: Die Stormers het hul Kampioenebeker-veldtog gisteraand afgeskop met ‘n moeisame oorwinning van 26-17 teen Bayonne op die Stade Jean Duauger in die suidweste van Frankryk. Ten spyte daarvan dat hulle vir ‘n lang tydperk, na ‘n rooi kaart, met 14 man gespeel het, was die Stormers se oorheersende skrumwerk en die skopskoen van losskakel Clinton Swart wat 16 punte aangeteken het, deurslaggewend. Paul de Villiers het die laat drie gedruk wat hulle oorwinning verseker het. Vanmiddag pak die Bulle Bordeaux op Loftus, en môremiddag is dit die Sharks teen Toulouse in Frankryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….