Nuus 09:00
BULLETIN 3 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen is tevrede met die landbougroei in die derde kwartaal
# Cosatu bly bekommerd oor die jongste BBP-groeisyfers
# En die Amerikaanse minister van Verdediging verdedig die opvolgaanval op ‘n vermeende dwelmboot
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, verwelkom die jongste data van Statistiek Suid-Afrika wat toon dat landbou in die derde kwartaal van 2025 met ‘n bykomende 1,1-persent in bruto waarde gegroei het. Die volg na groei van 2,5-persent in die tweede kwartaal. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê Suid-Afrika se uitvoere het met 0,7-persent toegeneem en word toegeskryf aan groter handel in groente- en minerale produkte:
# Cosatu sê hy bly bekommerd oor die bruto binnelandse produk se jongste groeikoers. Suid-Afrika se ekonomie het in die derde kwartaal van 2025 met 0,5-persent gegroei wat die vierde agtereenvolgende kwartaallikse styging is. Die ekonomiese hupstoot tussen Julie en September volg na ʼn opwaartse aanpassing van kwartaal twee se BBP-data van 0,8- na 0,9-persent. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê dis steeds ver van die drie-persent wat nodig is om tot ʼn volgehoue en betekenisvolle daling in werkloosheid te lei:
# Die Stad Tshwane sê hy het meer as 90-persent van rekeninge wat sedert Julie 2025 met ʼn skoonmaakheffing van 194-rand belas is, reggestel en die rekeninghouers gekrediteer. Die Hooggeregshof in Pretoria het verlede maand bevind die omstrede skoonmaakheffing is onwettig en die metro beveel om inwoners wat dit reeds betaal het, te vergoed. Die metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, sê dit bewys Tshwane se respek vir regsgesag:
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê hy het nie gekyk toe admiraal Frank Bradley op 2 September opdrag gegee het vir ʼn tweede aanval op ʼn vermeende dwelmboot in die Karibiese See nie. Ná die eerste aanval het twee oorlewendes aan die brandende boot vasgeklou, maar hulle is in die tweede aanval dood. Dit het gelei tot beskuldigings van oorlogsmisdade. Hegseth het Bradley se optrede verdedig en sê dit was binne die administrasie se wettige bevoegdheid:
# Motorsport: Die Fransman Isack Hadjar is in die plek van Yuki Tsunoda ingesluit as spanmaat vir die viermalige Formule Een-wêreldkampioen, Max Verstappen, vir Red Bull vir die 2026-seisoen. Hadjar het ‘n indrukwekkende eerste seisoen by Racing Bulls gehad, en in tien wedrenne punte aangeteken, insluitend sy eerste plek op die podium by die Nederlandse Grand Prix. Tsunoda bly egter as ‘n toets- en reserwebestuurder in die Red Bull-groep. Die huidige Formule 2-bestuurder, Arvid Lindblad, sal intussen saam met Liam Lawson sy F1-debuut by Racing Bulls maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9 sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-61 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-en-984 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-223 dollar, 87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-35-sent per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….