Nuus 09:00
BULLETIN 10 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP sê hulle verwerp Trump se rassistiese propaganda oor Suid-Afrika
# Thabo Bester veg steeds vir verslapping van sy tronkvoorwaardes
# En vyf familielede sterf in ‘n hutbrand in Ekurhuleni
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê hulle veroordeel en verwerp in geheel president Donald Trump se jongste tirade van valse inligting en rassistiese propaganda teen Suid-Afrika. In ‘n plasing op Truth Social het Trump weer beweer Afrikaners word uitgemoor, en hul grond en plase onwettig afgevat. Alex Mashilo van die SAKP sê Trump se rassisme kom ook na vore deur die lot van die grondlose swart meerderheid in Suid-Afrika te ignoreer:
# In sy jongste aansoek in die Johannesburgse Hooggeregshof, probeer die veroordeelde moordenaar en verkragter, Thabo Bester, om die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste te dwing om sy tronkvoorwaardes te verslap. Bester voer aan dat sy huidige eensame opsluiting by die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum ongrondwetlik is en sy reg op ‘n billike verhoor skend. Hy wil hê sy tronkvoorwaardes moet verslap word sodat hy kontakbesoeke van familielede en sy prokureurs kan ontvang. Bester en sy medebeskuldigde kom na verwagting op 5 Desember weer voor.
#’n Brand het Sondagnag die lewens van vyf gesinslede in die Steve Biko-plakkerskamp in Etwatwa in Ekurhuleni geëis terwyl ʼn tiener ongedeerd ontsnap het. Die Ramp- en Noodbestuursdiens se woordvoerder, William Ntladi, sê toe hulle op die toneel aankom, was ʼn vyfvertrekhut in ligte laaie en mense binne-in vasgekeer. Hy sê paramedici het die pa, ma en drie kinders op die toneel dood verklaar:
# Amerikaanse senatore stem oor ʼn ooreenkoms wat die weg kan baan om die langste regeringsluiting in die geskiedenis te beëindig. Die stemmery volg nadat ʼn groep van agt Demokrate in die Senaat ʼn ooreenkoms met die Withuis en Republikeine in die Senaat bereik het om die regering te heropen. Dis in ruil vir ‘n toekomstige stem oor die verlenging van verbeterde, bekostigbare sorgsubsidies. Hierdie stem is prosedureel, en indien suksesvol, moet dit na die Huis gaan om aanvaar te word en na president Donald Trump om onderteken te word.
# Tennis: Die topgekeurde Carlos Alcaraz het sy strewe na ʼn eerste ATP-jaareindtoernooi-titel en die eerste plek op die wêreldranglys in Turyn, Italië, op ʼn wen-noot afgeskop. Die 22-jarige Spanjaard het die Australiër, Alex de Minaur, geklop in sy eerste Jimmy Connors-groepwedstryd. In die Bjorn Borg-groep het die tweemalige wenner, Alexander Zverev, ook goed begin en die Amerikaanse nuweling Ben Shelton verslaan. Alcaraz sê hy is gemotiveer om hierdie toernooi te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-870-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-53-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….