Nuus 09:00
BULLETIN 6 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Trump sê Suid-Afrika hoort nie in die G20 nie
# Minister Kubayi bevestig die uitlewering van AKA se vermeende moordenaars uit Eswatini
# En TLU SA sê Suid-Afrika benodig ‘n duidelike ekonomiese rigting
# President Donald Trump van Amerika sê Suid-Afrika hoort nie meer in die Groep van 20 belangrike ekonomieë nie. Hy het die land herhaaldelik beskuldig dat hy op grond beslag lê en sekere klasse mense baie sleg behandel. Hy beskryf dit as ‘n massiewe menseregteskending. Suid-Afrika maak gereed om later vandeesmaand die G20-leiersberaad in Johannesburg aan te bied, wat Amerika se visepresident, JD Vance, na verwagting sal bywoon. Trump het aan die Amerikaanse Sakeforum in Miami gesê slegte dinge gebeur in Suid-Afrika:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het bevestig ‘n amptelike uitleweringsbevel van die Koninkryk van Eswatini vir die uitlewer van die broers Siyabonga Gezani Ndimande en Malusi Dave Ndimande is ontvang. Die twee word vir verskeie oortredings gesoek, onder meer die moord op die musikant Kiernan “AKA” Forbes en Tebello “Tibz” Motsoane. Die woordvoerder van die departement, Terrence Manase, sê die twee broers het hul uitleweringsbevel Maandag geïgnoreer:
# Aan die vooraand van die Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring op 12 November waarsku TLU SA dat Suid-Afrika se uitdagings, misdaad, gebrekkige infrastruktuur en swak dienslewering voortspruit uit onduidelike beleid, nie ‘n gebrek aan fondse nie. Bennie van Zyl van TLU SA sê die organisasie vra vir duidelike ekonomiese rigting, bekwame leierskap en verantwoordbaarheid. Hy beklemtoon dat begrotings misluk wanneer kundigheid en morele ruggraat ontbreek. Hy sê ware groei vereis duidelike beleide en bekwame uitvoering:
# Die Israelse leër sê Hamas het nog ‘n krygsgevangene aan die Rooi Kruis oorhandig. Dis die derde oorhandiging hierdie week. Indien dit as ‘n liggaam van ‘n gestorwe gyselaar bevestig word, beteken dit daar is nog ses ander steeds in Gaza. Die liggaam van Itay Chen, ‘n Israelies-Amerikaanse burger wat in Gaza aangehou is, is Dinsdagaand na Israel teruggestuur. Israel het Sondag die oorskot van drie ander gyselaars ontvang. Israel het Hamas herhaaldelik beskuldig van die sloer met die terugbesorg van gyselaars se liggame.
# Sokker: Manchester City het ʼn 4-1-sege oor Borussia Dortmund behaal en is nou vierde in die Kampioene-liga. Twee doele deur Phil Foden, en een elk van Erling Haaland, in sy 18de seisoen, en Rayan Cherki het die oorwinning beklink. In die wedstryd in België tussen Club Brugge en Barcelona is ses doele aangeteken wat tot ʼn gelykoptelling van drie elk gelei het. Newcastle United het Athletic Club met 2-0 verslaan en Chelsea en Qaraba se kragmeting het ook gelykop geëindig met twee elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-740-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-986-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….