Nuus 09:00
BULLETIN 4 November 2025 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê Ramaphosa dien die land goed
# Minister Steenhuisen loof die rekordgraanoes hierdie seisoen
# En ‘n werker wat onder ‘n ingestorte Middeleeuse toring in Rome vasgekeer was, is dood
# Die ANC sê hy is verstom oor berigte dat president Cyril Ramaphosa wil bedank. Berigte doen die afgelope maande die rondte dat hy die einde van die maand ná die G20-beraad in Johannesburg gaan uittree. Daar word bespiegel dat die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, as president sal waarneem. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu, het aan Newzroom Afrika gesê Ramaphosa dien die land goed:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het Suid-Afrika se graanprodusente gelukgewens met die lewering van ‘n rekord oes tydens een van die uitdagendste ekonomiese tydperke die laaste paar jaar. Die land se algehele graan- en oliesaadproduksie was meer as 23-miljoen ton, wat 30-persent meer is as verlede jaar. Steenhuisen sê die mielie-oes van net meer as 16,3-miljoen ton is beduidend meer as die nasionale behoefte van 12-miljoen ton:
# Die Stad Johannesburg het die onlangse hofuitspraak verwelkom wat sy standpunt oor die regulering van informele handel in die sakekern herbevestig. Handelaars het die metro voor die hof gedaag omdat hulle begin Oktober skynbaar na willekeur verwyder is. Die Hooggeregshof in Johannesburg het die metro gelas om binne twee weke informele handelaars wat kwalifiseer te verifieer, registreer en plek aan hulle toe te ken. Die woordvoerder van die metro, Nthatisi Modingoane, sê die hof het die noodsaaklikheid beklemtoon om ‘n gestruktureerde raamwerk vir informele handelaars te vestig wat aan die vereistes voldoen:
# ‘n Man wat gister ure lank onder ʼn ineengestorte Middeleeuse toring in Rome vasgekeer was, is dood. Die Roemeense burger, Octay Stroici, wat byna 12 ure lank onder puin vasgekeer was nadat ʼn deel van die 13de eeuse Torre dei Conti naby die Kolosseum ingestort het, is in die hospitaal dood. Volgens nooddienste is een werker in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal opgeneem terwyl drie ander nie beseer is nie. Die aanklaer in Rome se kantoor ondersoek die voorval.
# Tennis: Elena Rybakina van Kazakhstan het vir die eerste keer na die halfeindronde van die WTA-eindtoernooi in Riyadh deurgedring. Sy het die tweede gekeurde Iga Swiatek van Pole afgeransel vir ‘n voorsprong van 2-0 op die toernooi wat die jaar afsluit. Rybakina se plek onder die laaste vier is bevestig met die Amerikaner Amanda Anisimova se oorwinning oor haar landgenoot Madison Keys. Rybakina kom in haar laaste uitspeelronde teen Keys te staan, terwyl Swiatek en Anisimova sake sal uitspook in die laaste groepwedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33 sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-76 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-933 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-989 dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-60-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….