Nuus 09:00
BULLETIN 2 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die omstrede profeet Shepherd Bushiri beskuldig senior polisie van ‘n afpersingskomplot van 12-miljoen-rand
# Ses mense is dood en drie beseer in ‘n verbyry-skietery in Boksburg
# En in krieket: Pakistan wen die laaste T20 om die reeks teen die Proteas in te palm
# Die omstrede profeet Shepherd Bushiri het senior Suid-Afrikaanse polisiebeamptes daarvan beskuldig dat hulle in 2016 12-miljoen-rand as ‘n beskermingsfooi geëis het. Bushiri het tydens ‘n kerkdiens beweer die beamptes, onder andere “Generaal Sibiya”, het omkoopgeld gevra om sy saak te laat verdwyn en later teen hom gedraai. Bushiri beweer hy het die saak by die Onafhanklike Polisiedirektoraat aangemeld, maar niks het gebeur nie. Hy sê toenemende dreigemente het hom uiteindelik gedwing om in 2020 vir veiligheid na Malawi te vlug:
# Die dodetal na Saterdagaand se verbyry-skietery in Reigerpark, Boksburg, het tot ses gestyg nadat een van die beseerde slagoffers in die hospitaal dood is. Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, generaal-majoor Fred Kekana, het sedertdien hulpbronne gemobiliseer om die voorval te ondersoek. Die Gautengse polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê drie mense word steeds in die hospitaal behandel:
# City Power veroordeel die opsetlike vernietiging van straatligte op belangrike roetes in Johannesburg, insluitend die M1 tussen Southgate en Killarney, voor die G20-beraad. Woordvoerder Isaac Mangena sê dit is sonder twyfel sabotasie, aangesien die onderneming nuwe ligte ingesit het wat nou opsetlik beskadig word. Hy doen ‘n beroep op die SAPD en die Johannesburgse Metropolisiedepartement om patrollies en ondersoeke te verskerp ten einde infrastruktuur te beskerm en openbare veiligheid te verseker:
# Owerhede in die Wes-Kaap maan inwoners om waaksaam te wees terwyl ‘n warm, droë somer die gevaar van veldbrande in die provinsie verhoog. Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en ander streekliggame sê laer reënval en verdroogde plantegroei vererger die risiko’s. Inwoners word gewaarsku om nie oop vure te maak nie, seker te maak sigarette is heeltemal doodgedruk en onmiddellik enige tekens van rook by brandweerdienste aan te meld.
# Nege mense is dood in ‘n stormloop by ‘n gewilde Hindoe-tempel in die suide van Indië. Volgens die owerhede is tientalle ander beseer tydens die voorval by die Swamy Venkateswara-tempel waar duisende mense vergader het om ‘n heilige dag op die Hindoe-kalender te gedenk. Die tempel kan slegs drie-duisend mense huisves, maar ‘n skare van nagenoeg 25-duisend was Saterdag teenwoordig. ‘n Aanvanklike ondersoek het bevind die ysterheining wat die skare by die tempel moes beheer, het gebreek toe mense probeer inkom het.
# En ten slotte krieket: Die Pakistanse boulers met Shaheen Shah Afridi op die voorpunt, het die sukkelende Suid-Afrikaanse kolwers weereens oorrompel en hulle beperk tot 139 vir nege in die derde en laaste T20-wedstryd gisteraand in die Gaddafi-stadion in Lahore. Shaheen het 3 vir 26 gevat voordat Pakistan se sterkolwer Babar Azam 68 lopies van 47 balle geslaan het om die tuisspan tot ‘n oorwinning van vier paaltjies oor die Proteas te lei en die reeks 2-1 te wen. Suid-Afrika het die eerste wedstryd in Rawalpindi met 55 lopies gewen terwyl Pakistan die tweede, ook in Lahore, met 9 paaltjies gewen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….