Nuus 09:00
BULLETIN 15 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# # Business Leadership SA sê ‘n sistemiese verandering is nodig om Eskom se munisipale skuld te hanteer
# Die Kommunikasiewerkersvakbond is omgekrap oor die SABC se besteding op uitvoerende direkteure
# En die IMF verhoog sy vooruitsigte vir wêreldwye ekonomiese groei
# Business Leadership South Africa sê die harde werk wat die Nasionale Tesourie in die munisipale skuldverligtingsprogram ingesit het, lei nie tot ‘n verbetering in munisipale betalings nie. Munisipaliteite skuld Eskom gesamentlik 94,6-miljard-rand. Die aantal munisipaliteite met ‘n agterstallige skuldbalans van meer as 100-miljoen-rand het tot 75 gestyg. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê wat nodig is, is ‘n direkte ingryping in hoe munisipaliteite hul finansies bestuur om betaling aan Eskom af te dwing, voordat die inkomste wat uit elektrisiteitsverspreiding ingevorder word, vir enigiets anders gebruik word.
# Die Kommunikasiewerkersvakbond het sy woede uitgespreek omdat die SABC se totale besteding op uitvoerende direkteure tot 10,3-miljoen-rand gestyg het teenoor 9,9-miljoen-rand in die 2024/2025-boekjaar. Die openbare uitsaaier het ‘n netto verlies van 253,3-miljoen-rand getoon vergeleke met 197,8-miljoen in 2024. Die beskeie inkomstegroei van 1,3-persent is oortref deur ʼn styging van 3-persent in besteding. Die vakbondwoordvoerder, Moffat Seutlwadi, sê die SABC se uitvoerende hoof, Nomsa Chabeli, se totale pakket was in die 2024/2025-boekjaar 5,576-miljoen-rand:
# Die GOOD-party sê die Stad Tshwane se veelparty-koalisieregering se werk om die metro se finansies om te keer is merkwaardig. Burgemeester Nasiphi Moya sê vordering na een jaar in beheer sluit in die vermindering van Eskom-skuld, die voorlegging van ʼn befonsde begroting en die herbou van dienste. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die metro het werkloosheid met 4,5-persent verlaag en meer werk geskep wat dui op die sukses van die koalisie se ekonomiese strategie:
# Die Internasionale Monetêre Fonds het sy vooruitsigte vir wêreldwye groei vanjaar verhoog en ‘n minder as verwagte ekonomiese uitwerking van president Donald Trump se tariefbeleid aangedui, terwyl hy waarsku oor risiko’s wat voorlê. Die fonds se vlagskip-verslag oor wêreld-ekonomiese vooruitsigte is saamgestel voor die jongste tariefgeskil tussen Amerika en China. Die voorspelling vir vanjaar is verhoog tot 3,2-persent teenoor drie-persent in Julie, terwyl die voorspelling vir 2026 onveranderd bly op 3,1-persent. Die wêreldwye inflasiekoers sal na verwagting vanjaar hoog bly op 4,2-persent en in 2026 op 3,7-persent.
# Sokker: Die FIFA-president Gianni Infantino het Suid-Afrika gelukgewens met sy kwalifisering vir die 2026 FIFA-Wêreldbeker. Bafana Bafana het Rwanda met 3-0 verslaan en is bo-aan die punteleer in Groep C voor Nigerië en Benin. Suid-Afrika is die negende Afrika-span wat vir die uitgebreide 48-span-toernooi kwalifiseer, en sluit aan by Marokko, Tunisië, Egipte, Algerië, Ghana, Kaap Verde, Ivoorkus en Senegal. Infantino sê dit is ‘n groot prestasie vir Bafana Bafana om hul eerste kwalifisering vir dié wêreld-pronkstuk sedert 2002 te verseker:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-207-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-177-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….