Nuus 09:00
BULLETIN 13 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê AfriForum moet verswarende inligting oor ANC-leiers aan die NVG oorhandig
# Eskom gaan meer opwekkingsvermë skep om bestendigheid verder te versterk
# En die Gaza-vredesberaad is daarop gemik om ‘n nuwe era in die Midde-Ooste in te lui
# Die GOOD-party sê indien AfriForum inligting het oor terreurdade wat in die apartheidsera onder die ANC of enige iemand anders se naam gepleeg is, moet dit aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig word. AfriForum het die Khampepe-kommissie versoek om vas te stel waarom ANC-leiers nie vir terreurdade vervolg is nie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê AfriForum moenie hierdie inligting gebruik om apartheid se veiligheidsmagte goed te praat nie:
# Eskom sê hulle beplan om ‘n totaal van drie-duisend-380-megawatt se opwekkingsvermoë in die netwerk terug te bring voor vanaand se spitstyd, en deur die komende week. Dit is om die bestendigheid van die netwerk verder te versterk. Die woordvoerder van die kragverskaffer, Daphne Mokwena, sê tussen 3 en 9 Oktober is ‘n gemiddeld van tien-duisend-835-megawatt in onbeplande onderbrekings aangeteken, ‘n beduidende verbetering in vergelyking met die 11-duisend-920-megawatt gedurende dieselfde tydperk verlede jaar:
# Die Oos-Kaapse regering het die beplande afsluiting vandag deur taxi-operateurs wat deel is van die regering se leerdervervoerprogram, sterk veroordeel. Dit volg op ‘n lang tydperk van wanbetaling, met sommige operateurs wat berig het dat hulle tot ses maande lank geen betaling ontvang het nie. Die provinsiale regering se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê so ‘n inperking sal nie net inbreuk maak op mense se reg van beweging nie, maar sal ook ‘n negatiewe uitwerking hê op talle taxi-operateurs wat privaat kontrakte het:
# President Donald Trump van Amerika en sy Egiptiese ampsgenoot, Abdel Fattah al-Sisi, bied vandag in Sharm el-Sheikh ‘n beraad vir meer as 20 wêreldleiers aan. Die beraad wil die oorlog in die Gaza-strook beëindig, pogings verskerp om vrede en stabiliteit in die Midde-Ooste te bewerkstellig, en ʼn nuwe era van sekuriteit en bestendigheid in die streek inlui. Hulle sal ook die volgende fase van Trump se 20-punt-vredesplan bespreek. Die Franse president Emmanuel Macron, die Verenigde Koninkryk se eerste minister Keir Starmer, en die Duitse kanselier Friedrich Merz sal ook teenwoordig wees.
# Padwedloop: Jacob Kiplimo van Uganda het die 47ste Chicago-marathon in ‘n tyd van 2-uur, 2-minute en 23-sekondes gewen. Kiplimo, wat Sondag slegs aan sy tweede marathon deelgeneem het, was tweede in Londen-marathon. Die Keniane Amos Kipruto en Alex Masai het onderskeidelik tweede en derde geëindig. Hawi Feysa het intussen die eerste Ethiopiese wenner van die Chicago-marathon se vrouewedloop in agt jaar geword, met meer as twee minute se verbetering op haar persoonlike beste tyd om in 2-uur, 14-minute en 56-sekondes te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-999-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-55-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….