Nuus 09:00
BULLETIN 7 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ANC se nuwe ekonomiese plan moet sy rassebeleid laat vaar om te werk
# Die Kernreguleerder sluit die openbare verhore oor Koeberg af
# En ActionSA eis dringende ingryping oor die voortdurende massamoorde in Gauteng
# Die DA sê die ANC se Ekonomiese Aksieplan moet die mislukte swartbemagtigingsbeleid laat vaar en toesien dat die nuwe plan werk. Die nuwe tienpuntplan om die ekonomie te laat herleef, sluit in die uitbreiding van elektrisiteitsinfrastruktuur, die herstel van die chroom- en mangaanbedrywe, die bevordering van plaaslike ekonomiese ontwikkeling en die uitbreiding van openbare werk- en vaardigheidsprogramme. Mat Cuthbert van die DA sê Suid-Afrika het ‘n ware bemagtigingsmodel nodig wat ‘n tasbare uitwerking in arm gemeenskappe het en ‘n pad uit armoede na voorspoed skep:
# Die Nasionale Kernreguleerder het sy derde en laaste ronde openbare verhore afgesluit, oor Eskom se aansoek om die oorspronklike leeftyd van die Koeberg-kernkragsentrale te verleng. Verhore is in die Noord- en die Wes-Kaap gehou. Die raad se voorsitter, Protas Phili,sê belanghebber-insette is noodsaaklik vir deursigtigheid en veiligheid. Die reguleerder sal nou alle voorleggings hersien voor hy sy finale besluit oor Koeberg Eenheid 2 se aansoek sal bekendmaak.
# ActionSA in Gauteng eis ‘n omvattende plan van aksie om die toenemende geweldsmisdaad in die provinsie aan te spreek, insluitend verbeterde intelligensie-insameling en sigbare polisiëringsoperasies in hoërisiko-gebiede. Dit volg op die moord Sondag op vyf mense in ‘n taverne in Zithobeni, Bronkhorstspruit. Zwelithini Mtshali van ActionSA sê die jongste tragedie lê weer eens die verergerende toestand van wetteloosheid en die mislukking van wetstoepassingsowerhede bloot om gemeenskappe te beskerm:
# Die Demokratiese leier van die Senaat, Chuck Schumer, het president Donald Trump se bewering verwerp dat onderhandelinge met sy party aan die gang is. Twee voorstelle om die regering te befonds, een van die Demokrate en een van die Republikeine, het albei Maandagaand in die Senaat misluk. Dit beteken die regering se afsluiting duur nou al sewe dae. Schumer sê as Trump en die Kongres se Republikeine uiteindelik gereed is om te gaan sit en iets gedoen te kry oor gesondheidsorg vir Amerikaanse gesinne, is die Demokrate bereid om dit te laat gebeur:
# Sokker: Kaizer Chiefs se middelveldspeler Mduduzi Shabalala is opgeroep om die beseerde Relebohile Mofokeng in die Bafana Bafana-groep te vervang. Dit is voor hul twee belangrike Wêreldbeker-kwalifiserende wedstryde teen Zimbabwe en Rwanda. Die Orlando Pirates-voorspeler Mofokeng het Saterdag ‘n kniebesering opgedoen in die oorwinning oor Siwelele FC. Bafana Bafana is saam met Benin gelykop met 14 punte in Groep C in die wedloop vir ‘n plek by die 2026 Wêreldbeker-toernooi. Suid-Afrika pak Zimbabwe Vrydag in Durban en Rwanda volgende Dinsdag in die Mbombela-stadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16 sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-13 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 124-duisend-264 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-974 dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-50-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….