Nuus 09:00
BULLETIN 4 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mandla Mandela se vrou pleit vir sy veilige terugkeer
# Die Ad Hoc-komitee se getuienisleiers vertrou die vordering wat gemaak word
# En, Eskom se herstelplan stoot energiebeskikbaarheid bo 70-persent
# Oudpresident Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, se vrou pleit vir sy veilige terugkeer nadat Israelse magte die Global Sumud-flottielje onderskep het, met aktiviste, insluitend Suid-Afrikaners aan boord. Nosekeni Mandela het aan SABC News gesê die familie se laaste kontak was Woensdagoggend. Nosekeni sê Mandla het verplig gevoel om by die sending aan te sluit weens Gaza se humanitêre krisis. Sy sê die familie ondersteun hom ten volle, maar is bekommerd oor sy veiligheid:
# Die getuienisleier van die parlementêre Ad Hoc-komitee, Norman Arendse, sê verskeie openbare voorleggings is ontvang voor die aanhoor van getuienis deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Hy het beweer daar is politieke inmenging in die regstelsel en misdaadvoorkoming. Arendse het aan die komitee gesê die Intelligensie-inspekteur-generaal het eers leiding van die gesamentlike staande komitee versoek voordat hy met die ad hoc-komitee vergader het:
# Eskom se Opwekkingsherstelplan het die maand-tot-datum Energiebeskikbaarheidsfaktor tot 70,45-persent gestoot, wat sy 70-persent-teiken oortref. ‘n Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dit het die aanlegbetroubaarheid verbeter met verminderde onbeplande onderbrekings. Die kragverskaffer sê daar was 140 opeenvolgende dae sonder beurtkrag, met slegs 26 uur sedert April aangeteken. Mokwena sê dieselafhanklikheid het skerp gedaal, wat koste verlaag en doeltreffendheid verhoog. Eenheid 6 by Kusile is in kommersiële bedryf, wat bydra tot die basis-voorraad. Eskom voorspel geen beurtkrag hierdie somer nie as gevolg van volgehoue verbeterings in opwekkingsvermoë.
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het die baanbreker-uitspraak van die Konstitusionele Hof verwelkom wat die ongelyke bepalings vir ouerskapsverlof as diskriminerend verklaar. Die hof het bevind dat geboortemoeders, vaders, aanneemouers en surrogaat-ouers gelyke verlofregte kragtens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes en die Wet op Werkloosheidsversekering moet geniet. Die kommissie sê hierdie uitspraak bevestig waardigheid, gedeelde versorging en geslagsgelykheid, en hy dring aan dat die Parlement dringend wette wysig om inklusiewe gesinsregte te weerspieël.
# ‘n Siriës-Amerikaanse Jood Henry Hamra staan Sondag vir ’n setel in Sirië se eerste wetgewer sedert die omverwerping van die jarelange heerser Bashar al-Assad. Hamra se pa is volgens berigte die laaste rabbi wat Sirië verlaat het. As hy gekies word, is Hamra die eerste Joodse verteenwoordiger in die parlement sedert die 1940’s. Plaaslike kommittees kies twee-derdes van die 210 setels in die wetgewer, met die res wat deur die Siriëse president, Ahmed al-Sharaa aangewys word, in ‘n stelsel wat as ondemokraties beskryf word.
# En die Johannesburgse Metropolisie waarsku motoriste oor verkeersontwrigtings vandag in die omgewing van die Orlando-stadion, voor die Carling Uitklopbekerwedstryd tussen Orlando Pirates en Siwelele FC. Mooki- en Martha Louwstraat word van 11-uur vanoggend af gesluit en dit sal die N17, die Soweto-snelweg en Klipspruit Valleyweg raak. Alternatiewe roetes en aangewese parkering is beskikbaar. ‘n Metropolisiewoordvoerder Xolani Fihla het motoriste en toeskouers aangespoor om vooruit te beplan en geduldig te wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….