Nuus 09:00
BULLETIN 3 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê daar kan geen vrede in Gaza wees sonder geregtigheid nie
# Vlaag van hommeltuie dwing die München-lughawe om tydelik te sluit
# En rugby: Duvenage speel vanaand sy 100ste wedstryd vir die Stormers
# Die vakverbond, Saftu, sê daar kan nie vrede in Gaza wees sonder geregtigheid nie, en geregtigheid vereis volgens hom ‘n einde aan die beleg, besetting en sogenaamde misdade van Israel. Die vakverbond ondersteun die aktiviste aan boord van die Sumud-flottielje, insluitend Nkosi Mandla Mandela, wat aangehou word. Saftu-woordvoerder Asive Dyani sê lande moet saamstaan, Israel isoleer en die Palestyne bevry:
# Die metaalwerkersvakbond, Numsa, kritiseer die regering omdat hy nie beter beheer het oor die invoer van buitelandse produkte, veral Asiatiese en Indiese voertuie nie. Hy sê dis ten koste van die plaaslike vervaardigingsarbeidsmag. In 2018 was een-persent invoere in die voertuigmark uit China en Indië, maar in 2025 het dit tot 26-persent geklim. Numsa se sekretaris-generaal, Irvin Jim, sê werkers verloor nie hul werk omdat hulle lui of nie opgelei is nie, maar omdat die regering se beleid handelaars en invoerders bevoordeel.
# Die Vryheidsfront Plus doen ʼn beroep op die Stad Tshwane om rekenskap te gee van die verskil tussen die ware koste van water en die koste om dit met gehuurde watertenkwaens aan gemeenskappe te lewer. Die metro betaal een-sent per liter vir water, maar dit kos tien-sent per liter om dit met tenkwaens af te lewer. Peter Meijer van die VF Plus sê dit kom neer op meer as 530-miljoen-rand per boekjaar, wat onvolhoubaar is. Hy sê alle watertenkwa-kontrakte sedert 2021 moet ondersoek word:
# Die München-lughawe in Duitsland moes Donderdagaand noodgedwonge tydelik sluit weens die waarneming van hommeltuie wat gelei het tot die kansellasie van 17 vlugte. Sowat drie-duisend passasiers is geraak. Saam hiermee is 15 inkomende vlugte na ander lughawens in Duitse stede Stuttgart, Nuremberg en Frankfurt herlei, asook na Wene in aangrensende Oostenryk. Dis die mees onlangse ontwrigting weens hommeltuie in Europese lugvaart en die vinger word na Rusland gewys vir die tydelike sluiting van lughawens verlede week in Denemarke en Noorweë. Die Kremlin ontken enige betrokkenheid.
# Rugby: Die skrumskakel Dewaldt Duvenage speel vanaand sy honderdste wedstryd vir die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting teen Ospreys in Kaapstad. Hy het sy buiging in 2009 gemaak, en ook 72 keer vir die Franse span Perpignan gespeel, en 98 keer vir Benetton in Italië. Duvenage se insluiting in die opdrafspan is die enigste verandering aan die agterlyn wat diens gedoen het toe die Stormers die verdedigende kampioen, Leinster, verlede naweek 35-0 verpletter het. Die slot Adré Smith speel sy 50ste wedstryd vir die tuisspan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-127-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-844-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….