Nuus 09:00
BULLETIN 30 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Ontleder sê Zuma se skorsing sal nie die ANC se hernuwingsagenda bevorder nie
# Cosatu verwelkom die ANC se hernude fokus op bestuur en dienslewering
# En ‘n 17-jarige word in hegtenis geneem in verband met ‘n dodelike mesaanval in Noord-Engeland
# ‘n Politieke ontleder sê oudpresident Jacob Zuma se skorsing uit die ANC gaan nie die ANC se hernuwingsagenda bevorder nie. Die party se nasionale dissiplinêre komitee het Zuma geskors nadat hy skuldig bevind is dat hy in die Mei-verkiesing vir die MK-party stemme gewerf en gestem het. Hy het 21 dae tyd om te appelleer. ʼn Politieke ontleder aan die Nelson Mandela-universiteit, Ntsikelelo Breakfast, sê Zuma se doel op die lange duur is om die ANC voor te stel as ʼn organisasie wat sy regte geskend het, en voeg by hy is besig met ʼn politieke speletjie.
# Die vakverbond Cosatu wens die ANC geluk met die skorsing van voormalige president Jacob Zuma na ‘n tugverhoor. Die leier van die MK-party is skuldig bevind aan die oortreding van die ANC se grondwet. Die federasie hoop dit is nou die einde van ‘n moeilike era en loof die ANC se toewyding aan vernuwing en die stryd teen korrupsie. Zanele Sabela van Cosatu moedig die ANC aan om hom nou toe te spits op die heropbou van munisipaliteite, die groei van die ekonomie, die vermindering van werkloosheid en die verbetering van openbare dienste:
# Die DA in KwaZulu-Natal sê hy gaan ‘n geskrewe vraag aan die LUR vir Onderwys, Sipho Hlomuka, voorlê oor die ware stand van veiligheid in openbare skole. Dit volg nadat twee aanvallers gister ‘n laerskoolonderwyser ten aanskoue van leerders en kollegas by die Phikiswayo Primary School in Ntuzuma, noord van Durban, doodgeskiet het. Sakhile Mngadi van die DA sê dit is ‘n kommerwekkende voorval en dit is duidelik die kwessie van veiligheid by skole bly een van die grootste bekommernisse:
# ʼn Sewentienjarige seun is gearresteer op aanklagte van moord en poging tot moord ná ʼn dodelike aanval in Southport, Engeland. Twee kinders is gister dood en nege beseer in ʼn mesaanval by ʼn dansklas. Hoofkonstabel Serena Kennedy sê die aanval word in hierdie stadium nie as ʼn terreurdaad beskou nie en hulle soek geen ander verdagtes nie:
# Olimpiese Spele: Die Amerikaanse sierskaatsspan van die Winterspele in Beijing in 2022 kry volgende week uiteindelik hulle goue medalje. Dit volg nadat die Russiese tiener, Kamila Valieva, vroeër gedurende 2022 skuldig bevind is aan die gebruik van opkikkers en vir vier jaar geskors is. Haar punte is afgetrek en Rusland het teruggesak tot die bronsmedalje met Japan wenners van die silwer. Die Internasionale Olimpiese Komitee sê hoewel die oomblik vir ‘n goue medalje-oorwinning onvervangbaar is, voel die atlete Parys is so goed soos enige ander plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-753-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….