Nuus 09:00
BULLETIN 12 Julie 9vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê hy is gereed om te help met die herstel van die openbare gesondheidsorgsektor
# Stats SA sê die kommer oor die 2022-sensus is ongegrond
# En Biden verwerp kommer oor sy gesondheid
# Die Vryheidsfront Plus sê die land se politieke landskap bied hom, deur sy deelname aan die regering van nasionale eenheid, geleentheid om te help om die openbare gesondheidsektor reg te ruk. Die totale gesondheidsbegroting vir die 2024/2025-boekjaar beloop 62,2-miljard-rand. Philip van Staden van die VF Plus sê die bestuur en administrasie van die Departement van Gesondheid moet verander en beleide hersien word. Hy sê wanbestuur en korrupsie het openbare gesondheidsinstellings lamgelê:
# Statistieke Suid-Afrika sê kommer van wetenskaplikes oor die land se 2022-sensus is ongegrond en misleidend. Die Mediese Navorsingsraad het ‘n verslag bekend gemaak wat sê die sensus is gebrekkig en mense kan nie daarop staat maak vir die toekenning van begrotings nie. Wetenskaplikes sê die bevolkingsberaming van 62-miljoen is een-miljoen te veel en daar is wesenlike teenstrydighede op munisipale vlak. Statistieke SA sê die akkuraatheid van die sensus is deur plaaslike en internasionale statistiek-kenners onder die toesig van die Statistiekraad bekragtig.
# Die Stad Kaapstad het die Appèlhof se verwerping van ‘n aansoek verwelkom teen die reg van eiendomseienaars vir die beskerming van hulle eiendom teen onwettige besetting. Die stad sê die EFF en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het probeer om hom te keer om teen die onwettige besetting van munisipale eiendom sonder ‘n hofbevel op te tree. Die burgemeester Geordin Hill-Lewis, sê die voortgesette beskerming van openbare eiendom is nou as regmatig deur die hof erken:
# Die Amerikaanse president Joe Biden het kommer oor sy gesondheid verwerp en sê hy bly die beste kandidaat om Donald Trump in November te verslaan. Al meer Demokrate sê hy moet uittree nadat sy sukkelende debat verlede maand teen Trump kommer oor sy gesondheid laat ontstaan het. Biden sê hy hoef nie kognitiewe toetse te ondergaan nie omdat hy fiks genoeg is om die land te lei:
# Sokker: Die voormalige Bafana-Bafana-afrigter, Stanley Tshabalala is in die ouderdom van 75 oorlede. Hy is dood weens skietwonde wat hy opgedoen het toe daar in Maart vanjaar by sy huis in Centurion ingebreek is. Tshabalala was die eerste hoofafrigter van Bafana Bafana toe Suid-Afrika in 1992 weer tot internasionale sokker toegelaat is. Hy was ook die afrigter van Mamelodi Sundowns en het sedert 2008 verskeie vooraanstaande poste by Orlando Pirates beklee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-808-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….