Nuus 09:00
BULLETIN 10 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sadou is bekommerd oor toenemende aanvalle op skole, skoolhoofde en onderwysers
# Die advertensiewaghond striem Discovery oor ‘n misleidende advertensie
# En tennis: Alcaraz kom in die Wimbledon-halfeindstryd teen Medvedev te staan
# Die Suid-Afrikaans Demokratiese Onderwysersunie sê hy is bekommerd oor die toenemende aanvalle op skole, skoolhoofde en onderwysers deur gemeenskapstrukture. Skole het vir die derde kwartaal geopen. Net in Limpopo alleen is vier skole tydens die skoolvakansie beroof en gevandaliseer wat tot skade van duisende rande gelei het. Die vakbond se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, sê enige gemeenskap wat wetteloosheid by onderwysinrigtings bevorder, is teen-rewolusionêr:
# Die Advertensie-owerheid het Discovery beveel om sy advertensie-aansprake oor ‘n voordeel vir ernstige siekte reg te stel omdat dit misleidend is. News24 berig Discovery het aanspraak gemaak kliënte kan talle keer eis vir ernstige siektes, ondanks die verband daarvan met vorige eise, ‘n aanspraak wat die raad bevind het polisbeperkings weerspreek. Die besluit volg op ‘n vorige opdrag vir Discovery om ‘n misleidende gapingsdekking-advertensie terug te trek. Die finansiële dienstemaatskappy het sy standpunt verdedig deur te wys op die ingewikkeldheid van mediese toestande en beloof om sake duideliker te maak in sy voordeelriglyne.
# ActionSA sê die Stad Johannesburg se voorgestelde 2,5-miljard-rand se lening van die Franse Ontwikkelingsagentskap kom neer op ‘n duur en onnodige skuldlas op inwoners. Die Johannesburgse stadsraad het die lening verwerp met 118 raadslede wat daarteen en 111 daarvoor gestem het. Drie raadslede het buite stemming gebly. Nobuhle Mthembu van ActionSA sê die stad moet eerder fokus op die insameling van inkomste vir die talle departemente wat miljoene rand geskuld word wat min of meer op dieselfde bedrag as die lening neerkom:
# Liberië se president, Joseph Boakai, het ‘n salarisverlaging van 40-persent aangekondig om ‘n presedent te skep vir verantwoordelike staatsbestuur en om armoede en korrupsie teen te werk. Hy is in Januarie ingehuldig vir ‘n termyn van ses-jaar, en het sy jaarlikse salaris verlaag van 243-duisend-rand tot net meer as 145-duisend. Boakai se besluit weerspieël sy verbintenis tot die verbetering van lewensomstandighede, die versterking van regerings-aanspreeklikheid, en om solidariteit met sy mense te betoon. Liberië is een van die armste lande en meer as die helfte van die bevolking leef in armoede.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje, kom in die Wimbledon-halfeindronde teen die Rus, Daniil Medvedev, te staan. Alcaraz het die Amerikaner, Tommy Paul, met 5-7, 6-4, 6-2, 6-2 verslaan terwyl Medvedev die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, met 6-7, 6-4, 7-6, 2-6, 6-3 geklop het. In die vroueafdeling is Jasmine Paolini die eerste Italiaanse vrou in die ope-era wat ‘n Wimbledon-halfeindronde haal nadat sy die Amerikaner Emma Navarro met 6-2, 6-1 afgeransel het. Sy kom teen Donna Vekic van Kroasië te staan wat die Nieu-Seelandse kwalifiseerder, Lulu Sun, verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-558-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….