Nuus 09:00
BULLETIN 1 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die regering van nasionale eenheid is niks meer as ‘n ANC-DA-koalisie nie
# ActionSA kap die groter en opgeblase nuwe Kabinet
# En die Franse president kry ‘n groot terugslag in die parlementêre kitsverkiesing
# Die EFF sê die nuwe kabinet bevestig sy bestaande standpunt dat die regering van nasionale eenheid niks anders is as ‘n rookskerm vir die ANC se voorafbepaalde koalisie met die DA nie. Die DA het ses ministers en ses adjunk-ministers in die nuwe kabinet. Die EFF-woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê deur ministersposte aan die DA toe te ken, het die ANC die kompromieë oortref wat in dit in 1994 aangegaan het:
# ActionSA sê intussen die voordele en byvoordele van die ministers en adjunk-ministers in die uitgebreide nuwe kabinet sal jaarliks meer as een-miljard-rand kos. Die nuwe kabinet van die regering van nasionale eenheid het 32 ministers en 43 adjunk-ministers. Athol Trollip van ActionSA sê hulle is net so bekommerd oor die insluiting van ministers wat by ongerymdhede betrek word:
# Die Stad Tshwane sê inwoners sal wateronderbrekings ondervind as gevolg van Rand Water se uitgebreide instandhoudingsprogram. Alle reservoirs wat van die Palmiet-stelsel water kry, sal vandag, die 15de en die 29ste van die maand geraak word. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die beplande instandhouding sal die lewensduur van die infrastruktuur verleng en betroubaarheid in die somermaande verseker wanneer die vraag hoër is:
# Peilings toon Marine Le Pen se verregse National Rally-party in Frankryk gaan die parlementêre blitsverkiesing se eerste ronde wen. Die party behoort sowat 34-persent van die stemme te kry met ‘n linkse alliansie wat 28,1-persent kan kry. President Emmanuel Macron se alliansie is agter met 21-persent. Dit blyk die National Rally-party kan minder as die 289 setels kry wat nodig is vir ʼn absolute meerderheid. Le Pen sê Franse mense toon hulle wens vir verandering na sewe jaar van die verwoestende presidensie van Macron.
# Rugby: Die voormalige Wallaby-kaptein, Michael Hooper, het sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig nadat hy nie gekies is vir die nasionale sewes-span vir die Olimpiese Spele in Parys nie. Die 32-jarige Hooper is een van die mees bekroonde spelers in Australië se geskiedenis en het die manne in goud 69 keer aangevoer. Dit is meer kere as enige ander speler. Hy het in 2012 as 20-jarige sy eerste toets teen Skotland gespeel. Hooper sê sy ongelooflike reis is gevul met onvergeetlike ervarings, uitdagings en herinneringe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-249-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-324-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….