Nuus 09:00
BULLETIN 26 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP sê president Ramaphosa moet vinnig beweeg om die Kabinet aan te stel
# Nog ‘n bejaarde beskuldigde in die ouetehuismoord sterf in die hospital
# En Lauren Dickason word tot 18 jaar gevonnis vir die moord op haar drie kinders
# Die SAKP sê President Cyril Ramaphosa moet gou maak om die adjunk-president, ministers en adjunk-ministers aan te wys. Die SAKP-woordvoerder, Alex Mashilo, sê die DA het hom geposisioneer téén die regering van nasionale eenheid wat die ANC wil saamstel. Hy sê dit is uit die DA se optrede duidelik hy wil ‘n vyandige oorname verseker deur ‘n groot koalisie met die ANC – en onder meer die IVP – waarin die DA vetoreg sal uitoefen onder die voorwendsel van onvoldoende konsensus:
# ActionSA sal vandag Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Dwelmhandel in Johannesburg se sakekern vier. Die party, insluitend die aktivis, Curt Van Heerden, en ‘n gebruiker wat genees is, Kester Fisher, sal gebiede besoek wat baie deur hierdie misbruik geraak word om bewusmaking te kweek en ondersteuning te bied aan diegene wat geraak word deur verslawing. ‘n ActionSA-lid, Dereleen James, bepleit die toepassing van die party se nasionale dwelmmeesterplan om dwelmmisbruik te bekamp:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het die dood van die 92-jarige Daniel Madumo bevestig. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê Madumo is saam met wyle Jeremia Mmatli aangekla van ‘n moord by ʼn ouetehuis in Brits. Albei is op 3 Junie by die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria opgesluit. Nxumalo sê Madumo is Vrydag weens gesondheidsredes na ʼn buite-hospitaal oorgeplaas en is Sondag dood. Mmatli is Donderdag dood.
# Die Suid-Afrikaanse dokter, Lauren Dickason, sal 18 jaar in ʼn psigiatriese inrigting in Nieu-Seeland deurbring vir die moord op haar drie kinders. Dickason is van moord aangekla nadat sy op 16 September 2021 die sesjarige Liané, en tweejarige tweeling Maya en Karla verwurg en versmoor het terwyl haar man saam met kollegas gaan uiteet het. Sy het onskuldig gepleit, maar ʼn jurie het haar op 16 Augustus verlede jaar skuldig bevind. Die Hooggeregshof in Christchurch, Nieu-Seeland, het Woensdag beslis dat sy haar vonnis by ʼn psigiatriese eenheid in die Hillmorton Hospitaal uitdien.
# Sokker: Real Madrid se verdediger en kaptein, Nacho, gaan die Santiago Bernabeu ná 23 jaar verlaat. Sedert hy in 2001 by hul jeug-akademie aangesluit het, het die 34-jarige Spanjaard ses Kampioenskapsliga-titels saam met Madrid gewen, asook vier LaLiga-krone en twee Copa del Reys. Die Spaanse klub het in ʼn verklaring sy dank en toegeneentheid teenoor Nacho uitgespreek en hom een van die klub se legendes genoem. Nacho gaan volgens berigte moontlik by die Saoediese Pro League-span, Al-Qadsiah, aansluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-706-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….