Nuus 09:00
BULLETIN 16 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC is nie in ‘n groot koalisie nie
# Dissiplinêre optrede teen Jacob Zuma gaan voort
# En, gholf: Bryson DeChambeau het ‘n groot voorsprong in vandag se finale ronde van Amerikaanse Ope
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party is nie in ‘n groot koalisie nie, maar in ‘n regering van nasionale eenheid. Hy beklemtoon die DA is ‘n integrale deel van die regering van nasionale eenheid. Mbalula sê dit is nie slegs twee of drie partye in die Parlement wat vir president Cyril Ramaphosa gestem het nie, maar ook diegene wat hulleself ‘n progressiewe blok noem:
Mbalula het ook bevestig die party se dissiplinêre optrede teen die voormalige president Jacob Zuma gaan voort. Hy het die media in Kaapstad na die eerste sitting van die Nasionale Raad van Provinsies toegespreek. Zuma sou vroeër voor ‘n dissiplinêre komitee verskyn het na hy die party se reëls verbreek het met die stigting van die MK-party. Maar na wat berig word is dit uitgestel weens kommer oor veiligheid en vrees vir geweld voor die verkiesing.
# Die stigter van die internasionale dinksentrum, Institute for Economics and Peace, Steve Killelea, vra regerings en sake-ondernemings om te werk om mindere konflikte op te los voor dit eskaleer. Die Global Peace Index onthul 97 lande het in 2023 ‘n afname in vrede beleef. Konflik-verwante sterftes het verlede jaar tot 162-duisend gestyg, met Oekraïne en Gaza die groot brandpunte. Killelea sê geweld hou ‘n aansienlike risiko in vir wêreldwye voorraadkettings:
Intussen het die Israelse weermag bevestig agt soldate het in die suide van Gaza gesterf in die dodelikste aanval op sy magte in maande. Volgens Associated Press kan dié sterftes oproepe vir ‘n skietstaking versterk en Israeliese woede oor die vrystelling van ultra-Ortodokse Jode van militêre diens aanwakker. Een-en-twintig Israeliese troepe is in Januarie in aanvalle deur militante dood. Palestynse gesondheids-amptenare sê Israeliese bomaanvalle en sy grond-offensief in Gaza het meer as 37-duisend Palestyne gedood, maar hulle maak nie ‘n onderskeid tussen burgers en vegters nie.
# En, gholf: Bryson DeChambeau het 67 houe gespeel en het nou ‘n voorsprong van drie houe na drie rondes by die Amerikaanse Ope op Pinehurst. Die Amerikaner is die eerste speler ooit wat deur die telling van 70 in die eerste drie rondes van die toernooi gebreek het. Nog ‘n Amerikaner, Patrick Cantlay, wat 70 aangeteken het, Rory McIlroy van Noord-Ierland met 69 en die Fransman Matthieu Pavon, ook met 69, is almal drie houe agter. DeChambeau gaan probeer om vandag sy tweede Amerikaanse Ope in te palm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….