Nuus 09:00
BULLETIN 14 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# S&P Global Ratings sê ‘n ANC-DA-regering van nasionale eenheid kan onstabiel wees
# Die sekerheidstruktuur is gereed om ‘n gladde en voorvalvrye eerste parlementsitting te verseker
# En krieket: Engeland klop Oman en hou hul hoop vir die T20 Wêreldbeker-toernooi lewendig
# S&P Global Ratings glo ‘n regering bestaande uit die ANC en DA kan moontlik onstabiel wees. Na die ANC sy meerderheid verloor het, het hy politieke partye uitgenooi om deel van die regering van nasionale eenheid te wees. ANC-amptenare het struikelblokke met die DA uit die weg geruim en ooreengekom dat Cyril Ramaphosa vandag as president herverkies word. Frank Gill van S&P sê daar is nie volkome konsensus om saam met die DA te regeer nie.
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur is gereed om veiligheid en sekuriteit by vandag se eerste parlementsitting van die sewende administrasie in Kaapstad te verseker. Die geleentheid vind by Kaapstad se Internasionale Konvensiesentrum plaas. Die adjunkpolisiekommissaris en medevoorsitter van die struktuur, Tebello Mosikili, sê ‘n volledige sekuriteitsbepaling is uitgevoer om seker te maak alle maatreëls stem ooreen met die veiligheid- en sekerheidsplan:
# Die polisie se Nasionale Vervalste Goedere-eenheid het gister op meer as sewe-duisend vervalste items met ‘n beraamde waarde van 6,6-miljoen-rand by ‘n vervaardigingsaanleg in Johannesburg beslag gelê. ‘n Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê die items is namaaksels van bekende handelsmerke, insluitend skoene, klere, handsakke, pette, parfuums, skoonheidsmiddels en rugsakke. Sy voeg by dit is die grootste vervaardigingsaanleg van vervalste goedere waarop die polisie die afgelope jaar afgekom het:
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het ʼn resolusie aanvaar dat die Rapid Security Forces in Soedan hulle staat van beleg op El Fasher, die hoofstad van Noord-Darfoer, beëindig. Die resolusie wat deur die Verenigde Koninkryk ingedien is, het 14 stemme daarvoor gekry, terwyl Rusland buite stemming gebly het. Konflik het verlede jaar in April uitgebreek tussen Soedan se gewapende magte en die RSF, en meer as 14-duisend mense is dood. Dit het ook die wêreld se grootste verplasingskrisis veroorsaak.
# Krieket: Die verdedigende kampioen, Engeland, het Oman met agt paaltjies verpletter en hoop om die T20-wêreldbeker se Super Agt-ronde te haal. Mark Wood, Jofra Archer en Adil Rashid het geskitter met die bal en Oman tot 47 lopies beperk. In reaksie daarop het kaptein Jos Buttler ʼn onoorwonne 24 aangeteken en Engeland gehelp om die teiken in net drie boulbeurte en een bal te bereik. Dit was die vinnigste lopie-jaagtog in die T20-wêreldbeker se geskiedenis. Engeland kwalifiseer volgens die lopie-koers vir die volgende ronde indien hulle die naweek met Namibië afreken en Skotland teen Australië verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-773-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-307-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….