Nuus 09:00
BULLETIN 6 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Raad vir die Bevordering van die Grondwet sê koalisies is nie nodig voor die eerste sitting van die Parlement nie
# Santam het eise uit die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal ontvang na die verwoestende weersomstandighede
# En die VN-hoof vra die fossielbrandstofbedryf moet kortgevat word
# Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet sê politieke partye hoef nie koalisies te vorm voor die eerste sitting van die Parlement nie. Die Grondwet vereis die sitting moet plaasvind binne 14 dae nadat die verkiesingsuitslae verklaar is, vir lede om ingehuldig te word en die verkiesing van die speaker, adjunkspeaker en president. Dit sê niks oor ‘n tydperk waarin die president ‘n regering moet saamstel nie. Casac glo ‘n breë ooreenkoms moet in plek wees vir ‘n meerderheid LP’s om die president te verkies.
# Die Democratic Union-party wil die onlangse nasionale verkiesing ongeldig laat verklaar en sê dele van die Wysigingswet op Verkiesingsaangeleenthede is ongrondwetlik. Die Konstitusionele Hof het die party se aansoek Maandag van die hand gewys wat die onreëlmatighede van die wet wou aanspreek. Die party se woordvoerder, Thapelo Makgale, sê hulle glo die hou van die verkiesing kragtens die Verkiesingswet het gelei tot die verkiesing van ‘n onwettige regering:
Die korttermynversekeraar Santam het die afgelope 48 uur eise ontvang uit verskeie dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, ná die stormweer wat die provinsies die afgelope paar dae geteister het. Oorstromings het die lewens van tien mense geëis en meer as drie-duisend mense dakloos gelaat. Thabo Mabaso van Santam sê tot dusver het hulle uit die Oos-Kaap net meer as 254 eise ontvang vir skade aan eiendom en ander bates, en 132 uit KwaZulu-Natal:
# Die VN se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, sê lande moet nie net die fossielbrandstofbedryf aanvat nie, maar ook maatskappye wat hulle pogings steun om optrede oor die klimaatverandering te blokkeer. Hy doen ‘n beroep dat die wêreld se fossielbrandstofbedryf verbied word om te adverteer, om die wêreld teen klimaatsverandering te red. Guterres sê die wêreld moet diegene in die fossielbrandstofbedryf konfronteer wat meedoënloos aanhou om vooruitgang te blokkeer:
# Sokker: Amnestie Internasionaal wil hê Fifa moet toesien dat tenders van gashere vir die 2030 en 2034 Wêreldbeker op ‘n deursigtige wyse menseregte beveilig. Fifa het in Oktober verlede jaar die 2030 Wêreldbekerkompetisie aan Marokko, Spanje en Portugal toegeken terwyl Saoedi-Arabië die enigste tender vir die 2034-kompetisie is. Steve Cockburn van Amnestie Internasionaal sê die geskiedenis toon die Wêreldbeker kan ‘n bron van waardigheid óf uitbuiting, inklusiwiteit óf diskriminasie, en vryheid óf onderdrukking wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-63-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-368-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….