Nuus 09:00
BULLETIN 27 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nóg 27 verkiesingsverwante sake word ondersoek
# Minstens 18 mense, insluitend kinders, is dood ná tornado’s en storms die sentrale deel van die VSA tref
# En tennis: Alcaraz, Osaka en Wawrinka is deur na die tweede ronde van die Franse Ope
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensie-struktuur sê hy het ‘n versnelde reaksie-strategie ingestel om enige bedreiging en wetteloosheid in verskeie dele van die land voor die verkiesing Woensdag die hoof te bied. Nog 27 verkiesingsverwante sake is geregistreer en word ondersoek. Die adjunkpolisiekommissaris, Tebello Mosikili, sê die sake sluit in een van ‘n 25-jarige man en ‘n nege-jarige meisie wat tydens ‘n verkiesingsveldtog in Seshego, Limpopo geskiet is:
# COPE het MK-partylede se bewerings dat met stemme geknoei word, veroordeel. Die MK-party het video’s rondgestuur van aktiwiteite by die Verkiesingskommissie se stoorplekke in Chesterville, KwaZulu-Natal, en Hammarsdale, Mpumalanga. Die OVK sê dis beeldmateriaal van sy beplande logistieke reëlings en bewaring van verkiesingmateriaal en stembriewe in aanloop tot die eerste dag waarop spesiale stemme uitgebring word. COPE se woordvoerder, Pakes Dikgetsi, sê enige vorm van politieke inmenging in die verkiesingsproses moet veroordeel word:
# Minstes 18 mense insluitend vier kinders is dood met tornado’s en storms wat Texas, Oklahoma, Arkansas en Kentucky in Amerika getref het. Die stormagtige weer het byna 500-duisend mense sonder krag gelaat en huise en voertuie is beskadig. Die goewerneur van Texas, Greg Abbott, sê meer as ‘n derde van alle distrikte in sy staat kan as rampgebiede verklaar word. President Joe Biden sê amptenare van die federale noodbestuursdiens is besig met ‘n opname van die skade en hulle is gereed om hulp te verleen.
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje en Stan Wawrinka van Switserland is deur na die tweede ronde van die Franse Ope. Alcaraz wat vir drie weke nie kon speel nie weens ‘n besering, het die Amerikaner, J.J. Wolf, met 6-1, 6-2, 6-1 geklop. Die 2015-kampioen, Wawrinka, het die Brit Andy Murray met 6-4, 6-4, 5-2 uitgeskakel. In die vroueafdeling het die viermalige Major-wenner, Naomi Osaka van Japan die Italianer Lucia Bronzetti met 6-1,4-6, 7-5 uitgeknikker, terwyl die Switser Viktorija Golubic die voormalige kampioen van Tsjeggië Barbora Krejcikova in skoon stelle verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-794-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-31-sent per vat.
# En, dokters by die Klerksdorp-Tshepong-hospitaal se opgeknapte hartsjirurgie-teater is gereed om die eerste opehartoperasie by die fasiliteit te doen. ‘n Nege-en-dertig-jarige vrou van Jouberton naby Klerksdorp in Noordwes wat ‘n lek-hartklep en ‘n aangebore aneurisme het, word bevoordeel in ‘n gesamentlike poging tussen die Noordwes- en Gautengse Gesondheidsdepartemente. ‘n Woordvoerder van die Gautengse Gesondheidsdepartement, Motalatale Modiba, sê die LUR, Nomantu Nkomo-Ralehoko en Madoda Sambatha sal die media vandag inlig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….