Nuus 09:00
BULLETIN 15 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ACDP glo die Nasionale Gesondheidsversekering sal die gesondheidsektor in duie laat stort
# Agtien slagoffers van die George-ramp is uitgeken
# En atletiek: Die Kommissie vir Geslagsgelykheid vra ondersteuning vir Semenya
# Die ACDP sê die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering sal in sy huidige vorm lei tot die ineenstorting van die land se gesondheidsektor en ekonomiese groei negatief beïnvloed. President Cyril Ramaphosa beplan om die wetsontwerp vandag by die Uniegebou in Pretoria te bekragtig. Marie Sukers van die ACDP sê die gesondheidsektor se bekommernisse is glad nie oorweeg nie en openbare deelname is net ‘n afmerk-oefening vir die ANC-regering:
# Die Raad van Gesondheidsorg-befondsers is net een van die groot organisasies in die mediesefondsbedryf wat die omstrede Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering gaan uitdaag. President Cyril Ramaphosa beplan om die wetsontwerp vandag as wet te bekragtig wat die weg baan vir die instelling van universele gesondheidsorgdekking. Die raad sê hy glo nie die wetsontwerp in sy huidige vorm sal dit bereik nie. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en die Vereniging vir Gesondheidbefondsers het ook aangedui dat hulle hof toe gaan.
# Die Slagoffer-identifikasiesentrum en Forensiese Patologie-diens in George in die Wes-Kaap het 18 van die 33 oorledenes van verlede week se gebou-ramp uitgeken. Negentien konstruksiewerkers word nog vermis. Die George-munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê sewe van die 18 slagoffers is Suid-Afrikaners, vyf is Malawiërs, drie is van Zimbabwe, twee van Mosambiek en een van Lesotho:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê Washington is steeds verbind om Oekraïne van hulp te wees. Rusland is besig met ‘n nuwe inval in die noordooste van Oekraïne, insluitend Kharkiv, na hulle die afgelope week groot vordering op verskeie fronte gemaak het. Blinken wat gister ‘n verrassingsbesoek aan Kiëf gebring het, het erken die vertraging in die verskaffing van Amerikaanse militêre hulp het ‘n rol gespeel in Oekraïne se stryd om Rusland se toenemende oorheersing te bekamp:
# Atletiek: Die Komissie vir Geslagsgelykheid doen ‘n beroep op lande en aktiviste om hulle agter Caster Semenya te skaar in ‘n poging om geregtigheid vir haarself en ander atlete te laat geskied. Die Europese Hof van Menseregte gaan vandag ‘n finale besluit neem oor Semenya se regstryd oor testosteroonregulasies. Die tweemalige Olimpiese kampioen oor 800 meter betwis die vereiste om haar testosteroonvlakke te verlaag om deel te neem. Die kommissie sê ‘n gunstige uitslag is belangrik vir atlete met verskille in seksuele ontwikkeling, wêreldwyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-883-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….