Nuus 09:00
BULLETIN 13 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi wil hê die Openbare Beskermer moet die korrupsiebewerings teen minister Kodwa ondersoek
# Transnet se staatskapingsrekening word op sowat R60-miljard geraam
# En die Britse minister van Buitelandse Sake weier om wapenuitvoere na Israel te beperk
# RISE Mzansi Gauteng sê hy gaan ‘n klag by die kantoor van die Openbare Beskermer lê teen die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa. Hy word daarvan beskuldig dat hy die wet verontagsaam en sy vriende beskerm het in die aanstelling van amptenare by die Nasionale Kunsteraad. RISE Mzansi se provinsiale sameroeper, Tebogo Moalusi, sê die aantygings teen die minister is uiters kommerwekkend, teen die agtergrond van onlangse berigte dat die Nasionale Vervolgingsgesag besig is met ‘n ondersoek teen hom oor vermeende omkopery van 1,6-miljoen-rand:
# Transnet is op die rand van ineenstorting tensy die regering ‘n manier vind om die staatsinstelling te herstruktureer, sy skuldkrisis op te los en ooreen te kom oor die regte uiteensetting vir beleggings in spoorvervoer. Dis die mening van ʼn professor in Logistiek aan die Universiteit Stellenbosch, Jan Havenga. Hy beraam die koste van staatskaping by Transnet op sowat 60-miljard-rand, wat gelyk is aan die helfte van sy totale skuldlas. Havenga sê die regering sal Transnet se staatskapingskuld moet oorneem omdat dit nie toegelaat kan word om voort te gaan om sy balansstaat te benadeel nie.
# Polisie in Gauteng het ʼn soektog begin ná die dood Vrydag van ʼn vyfjarige seun in Soshanguve. Ditebogo Junior Phalane, wat sy pa wou verwelkom toe hy tuiskom, is buite die huis deur kapers geskiet en later in die hospitaal dood. Die pa se wit Toyota Hilux is gesteel. ʼn Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê hulle soek na ʼn onbekende aantal gewapende verdagtes:
# Brittanje se minister van Buitelandse Sake, David Cameron, sê hoewel hy nie ‘n groot grondaanval op Rafah in Gaza sal steun nie, gaan die land nie wapenuitvoere na Israel opskort nie. Brittanje verskaf slegs een-persent van Israel se wapens. Die Verenigde Nasies sê meer as 80-duisend mense het sedert verlede Maandag uit Rafah gevlug. Cameron voer aan die verbod op wapenuitvoere na Israel sal Hamas net versterk. Hy het Israel aangemoedig om meer te doen om burgerlikes te beskerm en humanitêre hulp na Gaza toe te laat.
# Gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, het die Wells Fargo-kampioenskap die vierde keer gewen. Die speler van Noord-Ierland het ses onder 65 behaal om die Amerikaner, Xander Schauffele, in Quail Hollow in Charlotte met vyf houe te klop en sy 26ste PGA-toertitel op te raap. An Byeong-hun van Suid-Korea was derde na ʼn finale ronde van 66. McIlroy sê hy is vol vertroue met die Amerikaanse PGA-kampioenskap by Valhalla, wat voorlê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-17-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-355-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….