Nuus 09:00
BULLETIN 24 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering volg ’n beleid om swart Suid-Afrikaners aan die ekonomie te laat deelneem
# Meer as 100 000 seksuele aanrandingstelle is beskikbaar, maar nie by alle polisiestasies nie
# En die Amerikaanse Senaat keur ‘n hulppakket van 1,81-duisend-miljard-rand goed vir Oekraïne, Israel en Taiwan
# President Cyril Ramaphosa sê die regering volg beleidsrigtings wat swart Suid-Afrikaners tot deelname aan die ekonomie sal lei. Hy het die Worker Share Ownership Conference toegespreek wat deur die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging by die Sandton-konvensiesentrum aangebied is. Hy glo werkers-aandeel-eienaarskap sal van kritieke belang wees om te verseker niemand bly agter nie. Ramaphosa het die projek verwelkom as ‘n belangrike stap om ongelykheid aan te spreek en insluiting te verbeter:
# Die polisie het onthul daar is tans meer as 100-duisend seksuele aanrandingstelle beskikbaar vir slagoffers, maar nie alle polisiestasies het toegang daartoe nie. Die nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, het in antwoord op ‘n parlementêre vraag gesê hoewel die aantal stelle dikwels die vereiste hoeveelheid in die meeste provinsies oorskry, is daar tekorte in sekere gebiede, veral in die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal. Alhoewel daar baie stelle beskikbaar is, word daar na raming slegs 46-duisend-119 benodig. Masemola het verduidelik nie alle polisiestasies het hierdie stelle nie weens kommer oor kostedoeltreffendheid.
# ActionSA in KwaZulu-Natal het die EFF se aantygings verwerp dat sy skenkings van kospakkies aan die uMFolozi TVET-kollege se Esikhawini-kampus ‘n blote publisiteitsfoefie vir volgende maand se verkiesing is. Die party sê hy het die kospakkies geskenk na die EFF-geleide studenteraad om hulp gevra het. ActionSA se provinsiale premierskandidaat, Zwakele Mncwango, sê hulle wou alleenlik die studente help en nie weens enige politieke motiewe soos die EFF insinueer nie:
# Die Amerikaanse Senaat het na maande lange vertragings ‘n hulppakket van 1,81-duisend-miljard-rand vir Oekraïne, Israel en Taiwan bekragtig. Dit sluit in fondse om Oekraïne se oorlogskas aan te vul, humanitêre verligting te bied in konflikgebiede insluitend Gaza, en vir die Indo-Stille Oseaan-streek om sy verdediging teen China te versterk. President Joe Biden sal die wetgewing vandag onderteken en sê dis belangrik om lande te ondersteun om hulleself te verdedig teen terroriste soos Hamas en tiranne soos die Russiese president Vladimir Putin.
# Sokker: Arsenal is nou heel boaan die Prermierliga-punteleer – drie punte voor sy naaste teenstander. Hulle het met 5-0 teen Chelsea in die Emirates-geseëvier. Leandro Trossard het die tuisspan se eerste doel in die eerste helfte aangeteken. Kai Havertz en Ben White het nog twee doele elk in die tweede helfte vir Mikel Arteta se span aangeteken wat die span vier punte voor die heersende kampioen, Manchester City plaas. Manchester lê nou derde. Arteta sê hy is tevrede met die manier waarop sy span die spel in die tweede helfte oorheers het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-52-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….