Nuus 09:00
BULLETIN 4 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ipsos sê jong Suid-Afrikaanse kiesers voel geen politieke party verteenwoordig hulle nie
# Kiesers in KwaZulu-Natal word aangemoedig om vroeg te stem weens gure weersomstandighede
# En Koning Charles sê die transatlantiese slawehandel was ‘n “afgryslike onreg”
# ‘n Nuwe Ipsos-peiling toon dat 50-persent geregistreerde jong Suid-Afrikaanse kiesers tussen 18 en 24 sê geen politieke party verteenwoordig hul standpunte nie. Slegs 27-persent stel in verkiesings en politiek belang. Die EFF en ANC het elk 17-persent van jong kiesers se ondersteuning, gevolg deur die MK-party met 15-persent en die DA met 13-persent. Mari Harris van Ipsos sê baie jongmense is nie oortuig dat hul demokratiese reg om te stem die kwessies wat vir hulle saak maak, kan aanspreek nie.
# Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal het inwoners in die noordelike dele van die provinsie aangemoedig om vandag vroeg te gaan stem. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ‘n vlak 4-waarskuwing vir hewige donderstorms uitgereik het. Die Verkiesingskommissie het 148 stemlokale in die provinsie wat slegs uit tente bestaan. Die departement se woordvoerder, Siboniso Mngadi, sê inwoners moet ook uiters versigtig wees wanneer hulle na stemlokale reis, veral wanneer hulle riviere oorsteek of oorstroomde paaie gebruik.
# NEHAWU se nasionale uitvoerende komitee het kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se huidige makro-ekonomiese beleidsraamwerk, en sê dit lewer nie volhoubare ekonomiese groei, belegging en ordentlike werk nie. Volgens die Nasionale Tesourie sal die raamwerk werkgeleenthede, beter uitvoerprestasie, meer beleggings, groter doeltreffendheid en billikheid in staatsbesteding, asook verbeterde ontwikkeling van menslike hulpbronne teweegbring. NEHAWU se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê die land se ekonomiese benadering wat op fiskale konsolidasie, besuiniging, inflasieteikens en strukturele hervormings fokus, plaas druk op openbare hulpbronne:
# Koning Charles beskryf die transatlantiese slawehandel as ʼn “skandelike hoofstuk in die geskiedenis en ʼn afgryslike onreg”. Die Britse regering het nooit ʼn amptelike verskoning uitgereik vir sy rol in transatlantiese slawehandel of vergoeding aangebied nie. Hy het gister by die vergadering van Statebond-staatshoofde in Antigua en Barbuda gepraat. Koning Charles sê hy is daartoe verbind om maniere te vind om in ‘n moderne vennootskap saam te werk om die onregte van die verlede aan te spreek, deur onder meer toegang tot onderwys te verbeter en in werksgeleenthede te belê:
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Paris St-Germain, bly onoorwonne in die Kampioeneliga na ‘n oorwinning van 6-0 oor Villarreal. Luis Enrique se span was na 17 minute 4-0 voor, danksy doele deur Joao Neves, Desire Doue, Senny Mayulu en Ruiz. Ruiz het PSG vroeg in die tweede helfte met 5-0 laat voorloop, en die plaasvervanger David Boly het in die 78ste minuut die sesde doel aangeteken. Manchester United het na ‘n agterstand van twee doele terugbaklei en Roma met 3-2 geklop; Bayern München is ook nog onoorwonne na ‘n 2-0 sege oor Atletico Madrid, terwyl Barcelona met 3-0 oor Aston Villa geseëvier het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-593-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-939-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….