Nuus 09:00
BULLETIN 14 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering waarsku teen die aanhitsing tot geweld en persoonlike aanvalle tydens die verkiesing
# Die Gautengse LUR vir onderwys is bekommerd oor die dood van leerders tydens skooluitstappies
# En 89 geslagsgeweldsake is binne ses maande van die rol geskrap
# Die regering het in die lig van die naderende verkiesing ‘n dringende beroep op burgers gedoen om mekaar met respek te behandel en mekaar nie te skel en persoonlik aan te val nie. Die verkiesing vind op 29 Mei plaas. Die regering waarsku dat individue wat dreigboodskappe op sosiale media en digitale platforms stuur, geweld aanhits of skade aanrig strafregtelik vervolg sal word ingevolge die Wet op Kubermisdaad. Hy sê ook die Verkiesingskommissie is gereed om ‘n vry en regverdige verkiesing aan te bied.
# Die Hooggeregshof in Pretoria hoor vandag die gewese Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se saak oor die niebetaling van haar gratifikasie van tien-miljoen-rand aan. Sy is in September verlede jaar afgedank nadat ‘n parlementêre ondersoek haar skuldig bevind het aan wangedrag en onbevoegdheid. Sy het dus haar reg op ʼn gratifikasiebetaling verbeur. Mkhwebane wil hê die hof moet die besluit van die Openbare Beskermer se kantoor om dit nie te betaal nie, ter syde stel en opdrag gee vir ʼn billike en regverdige oplossing in hierdie saak.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, vra ʼn spoedige ondersoek nadat twee leerders van Daveyton Skills School in Benoni verdrink het. Die leerders van 13 en 16 het ʼn kamp bygewoon toe hulle in die Hennopsrivier verdrink het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die nieregeringsorganisasie, Rising Stars Generation in Pretoria, het die kamp aangebied. Hy sê die LUR is bekommerd omdat leerders tydens skooluitstappies sterf:
# Sokker: Everton het appèl aangeteken teen die aftrekking van twee punte vir ‘n tweede oortreding van die Premierliga se wins- en volhoubaarheidsreëls. Die Toffees het in Februarie ook geappelleer toe tien punte van hulle afgetrek is omdat hulle die reëls oortree het. Hulle is verlede week weer beboet nadat hulle erken het hulle het hul toegelate besteding van ‘n 3,4-miljard-rand verlies oor drie seisoene met sowat 390-miljoen-rand oorskry. Die Premierliga sê hul appèl sal dringend aangehoor word en die uitslag sal voor afloop van die seisoen bekend wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-536-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-384-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-52-sent per vat.
# En ter afsluiting, die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, vra verbeterde dienslewering om misdaad te bekamp. Statistiek toon 243 sake is tussen April en September 2023 uitgegooi weens polisie-ondoeltreffendheid. Hiervan het 89 verband gehou met geslagsgeweld. Allen beklemtoon die behoefte aan polisie-verbetering om her-oortreding te voorkom, en sê ‘n geloofwaardige en betroubare polisiediens moet slagoffers van misdaad dien:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….