Nuus 09:00
BULLETIN 27 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê Tesourie se suksesvolle bekamping van besteding is net die helfte van die stryd
# SAFTU sê die regering van nasionale eenheid kan nie aanspraak maak op aktiewe kiesersteun van die meerderheid stemgeregtigde Suid-Afrikaners nie
# En tennis, Jannik Sinner is in Desember weer in aksie by die Six Kings Slam in Riaad
# Business Leadership South Africa sê die gevaar van ‘n fiskale ramp is afgeweer en gee beleggers meer vertroue om die land op die lang duur te ondersteun. Die Tesourie het in die mini-begroting aangekondig die verhouding tussen skuld en bruto binnelandse produk het in 2025/2026 bestendig geraak op 78,4-persent, en sal waarskynlik begin daal. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê terwyl groei die doel van gesonde fiskale bestuur is, is dit nog belangriker dat dit verseker burgers het toegang tot goeie werk en ʼn goeie lewe.
# Die vakverbond SAFTU sê die regering van nasionale eenheid het nie die demokratiese ondersteuning van die meerderheid Suid-Afrikaners nie, en word gebruik as voertuig vir neo-liberale ekonomiese beleide wat nie tot voordeel van werkers is nie. Hy sê die lae deelname aan die 2024-verkiesing weerspieël ʼn verlies aan vertroue dat die politieke stelsel lewens kan verander. SAFTU-woordvoerder, Asive Dyani, sê die ANC kan nie meer aanspraak maak dat hy ʼn beter alternatief vir armes bied nie en daar is min verskil tussen sy ekonomiese program en dié van die DA:
# Die Johannesburgse Metropolisiedepartement sê die N12-snelweg naby Lenasia en Nana’s Farm is nou weer oop vir verkeer na verlede nag se diensleweringsbetoging. Die betoging het gister ook verkeer ontwrig op die Klipspruitvallei-pad, bekend as die K43, en Abubakar-rylaan waar paaie onder meer met klippe en rommel versper is. Die departement se woordvoerder, Xolani Fihla, sê die polisie en verkeersbeamptes kon intussen versperrings verwyder en verkeersvloei herstel:
# Nigerië het sy enigste bevestigde Ebola-pasiënt na Switserland gestuur waar sy burgerskap het. Die 42-jarige vrou het simptome ontwikkel nadat sy vroeër die maand uit Uganda in die hoofstad, Abuja, aangekom het. Sy word in die Geneva Universiteits-hospitaal behandel terwyl haar man by die Zürich Universiteits-hospitaal in afsondering is. Nigeriese owerhede monitor 52 mense wat met haar in aanraking was. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se streekdirekteur vir Afrika, Mohamed Janabi, sê die pasiënt kon verskuif word aangesien sy klinies bestendig was:
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Jannik Sinner, sê hy beplan om in Desember aan die herskeduleerde Six Kings Slam in Riaad, Saoedi-Arabië, deel te neem. Die Italianer het weens ʼn kniebesering laas in Julie op Wimbledon gespeel. Sinner het aanvanklik onttrek aan die Six Kings Slam wat hierdie maand sou plaasvind. Die toernooi is egter weens dodelike aanvalle in Saoedi-Arabië tot laat in Desember uitgestel, wanneer hy weer sal kan deelneem. Spelers soos Alexander Zverev, Carlos Alcaraz en Novak Djokovic sal ook in aksie wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-604-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-19-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 114-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….