Nuus 09:00
BULLETIN 15 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM is woedend oor die betaling van die Poskantoor-afleggingsvoordele in paaiemente
# AfriForum gaan by die Uniegebou teen die Bela-wetsontwerp betoog
# En Iran waarsku hy sal reageer op enige dreigement of aggressie
# Die UDM sê dit is onaanvaarbaar dat die afleggingsvoordele van Poskantoorwerkers in paaiemente betaal gaan word. Die party se adjunk-president, Nqabayomiza Kwankwa, sê die ses-duisend Poskantoor-werknemers is alreeds ‘n slag toegedien deur die verlies van hulle werk. Dit is skokkend dat hulle nou gedwing word om selfs langer vir die vergoeding waarop hulle geregtig is, te wag:
# Die ministerie van Elektrisiteit sê minister Kgosientsho Ramokgopa vorder goed nadat hy gistermiddag in ‘n ongeluk betrokke was. Hy was van Noordwes na Gauteng op pad toe die motor waarin hy en twee lyfwagte gereis het in ʼn botsing met ʼn ander voertuig betrokke was. Die ministerie sê almal wat in die ongeluk betrokke was, het vinnig mediese behandeling ondergaan. Minister Ramokgopa is ná ʼn deeglike ondersoek ontslaan sonder om in die hospitaal opgeneem te word.
# AfriForum hou vandag ʼn plakkaatbetoging by die Uniegebou in Pretoria teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette. Die wetsontwerp wysig dele van die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 wat betrekking het op administratiewe en bestuursprobleme by skole, en wil die onderwysstelsel in geheel verander. AfriForum sê die Bela-wetsontwerp in sy huidige vorm is onwenslik en onprakties. Die organisasie dreig met regsoptrede indien die wetsontwerp aanvaar word.
# Iran se gesant by die Verenigde Nasies, Amir Saeid Iravani, sê die land het sy inherente reg op selfverdediging uitgeoefen deur Israel aan te val en het geen ander keuse gehad as om op te tree nie. Iran het Saterdag sy eerste direkte aanval ooit op Israelse grondgebied uitgevoer, uit weerwraak vir ‘n dodelike lugaanval op sy konsulaat vroeër die maand in Sirië se hoofstad. Iravani sê Iran soek nie eskalasie van die aggressie, óf oorlog nie, maar sal reageer op enige bedreiging óf daad van aggressie.
# Motorsport: Die Spanjaard Maverick Vinales van Aprilia Racing het geskiedenis gemaak toe hy die Grand Prix van die Americas MotoGP in Texas gebuit het. Hy het in die aanvangsronde van eerste na elfde teruggesak, maar teruggeveg en die eerste renjaer in moderne tye geword wat by drie vervaardigers wen. Die tiener-nuweling, Pedro Acosta van Spanje, het tweede klaargemaak en die Italianer Enea Bastianini derde. Die Suid-Afrikaner Brad Binder is negende. Vinales sê hy is tevrede om na drie jaar ʼn wedren te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-927-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-357-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….