Nuus 09:00
BULLETIN 1 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom vra van vandag af meer vir elektrisiteit
# Die Moral Regeneration Movement veroordeel ‘n gewapende roof tydens ‘n Paasfeesdiens naby Klerksdorp
# En tennis, ‘n foutlose Jannik Sinner blink uit en wen die Miami Ope
# Eskom vra van vandag af meer vir elektrisiteit nadat die Energiereguleerder die verhoging in tariewe goedgekeur het. Kliënte wat regstreeks aan Eskom betaal kan van vandag af tot 31 Maart 2025 ‘n persentasieverhoging van 12,74-persent vir alle elektrisiteitsuitgawes verwag, afgesien van die bekostigbaarheidsubsidie. Volgens Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, is die tarief vir die bekostigbaarheidsubsidie verhoog as ʼn subsidie aan die Homelight 20-ampere stroombreker-tarief, soos deur Nersa bepaal:
# Die Moral Regeneration Movement in Noordwes het die rooftog tydens ‘n Paasfeesdiens in Jouberton buite Klerksdorp veroordeel. Gemeentelede is van hul waardevolle besittings beroof nadat vyf onbekende gewapende mans Donderdagaand die kerk binnegestorm het. Die sameroeper van die MRM in Noordwes, Pastoor Lesiba Kgwele, sê sulke opportunistiese misdade wat op kerkbyeenkomste en ander plekke van aanbidding gerig is, bedreig gelowiges se grondwetlike reg op vryheid van byeenkomste:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut sê daar was ‘n aansienlike toename in noodreaksie-gevalle op ‘n staproete in die Tuinroete. In een van die voorvalle is hulle uitgeroep om ‘n vrou te help wat hittesteek in die Robberg-natuurreservaat in Plettenbergbaai opgedoen het. ‘n Woordvoerder van die NSRI, Craig Lambinon, sê dagstappers en roetestappers word dikwels verras deur hoe uitmergelend oënskynlik maklike staproetes kan wees:
# Sewe joernaliste, insluitend ‘n vryskutter wat vir die BBC werk, is beseer in ‘n Israelse lugaanval in die binnehof van ‘n hospitaal in Gasa. Volgens die BBC is vier lede van die Islamitiese Jihad-militante groep in die aanval dood. Die Israelse weermag sê hulle het op ‘n IJ-bevelsentrum op die terrein van die al-Aqsa-hospitaal in Deir al-Balah toegeslaan. Hamas en mediese personeel ontken Israel se beskuldigings dat militante hospitale as basisse gebruik. Al-Aqsa is die laaste hospitaal in die sentrale Gaza-strook wat nog behoorlik funksioneer.
# Ten slotte tennis, Jannik Sinner het Grigor Dimitrov Sondag met 6-3, 6-1 oorrompel om die Miami Ope die eerste keer te wen. Die 32-jarige Bulgaar, wat hierdie seisoen ʼn oplewing in sy loopbaan beleef, kon nie hond haaraf maak teen die Italianer se foutlose spel nie. Sinner het 88-persent van die punte op sy eerste afslaan ingepalm en 15 kishoue aangeteken om die titel in Suid-Florida te buit, nadat hy in 2021 en 2023 die naaswenner was. Sinner het 25 van sy laaste 26 wedstryde gewen en nog net drie keer verloor sedert die Amerikaanse Ope verlede jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….