Nuus 09:00
BULLETIN 9 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Andy Mothibi sê Andrea Johnson se vertrek by die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie was uiters belangrik
# COSATU sê ‘n wetsontwerp moet dringend bekragtig word vir brandstofprys-verligting van tien-miljard-rand
# En die teregstelling van ‘n voormalige Amerikaanse majoor wat 13 van sy kamerade vermoor het sal regstreeks gestroom word
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, sê dit sou ʼn groot risiko veroorsaak as Andrea Johnson aangebly het as hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie. Sy het in Julie bedank ná ʼn rampspoedige verskyning voor die Madlanga-kommissie. Mothibi het aan die Parlement gesê Johnson is nie toegelaat om aan gevolge te ontsnap, en het bevestig sy word strafregtelik ondersoek, asook deur die direktoraat. Hy beweer sy was betrokke by die meeste van die bestuur se nietigverklarings, terwyl prosesse nie gevolg is nie.
# COSATU vra die Parlement om dringend die Tweede Spesiale Toewysingswetsontwerp te bekragtig om brandstofprysverligting van tien-miljard-rand beskikbaar te stel. Die wetsontwerp wys die geld toe aan die Sentrale Energiefonds se Gelykmakingsfonds om werkers, pendelaars en die ekonomie teen stygende internasionale oliepryse te beskerm. Die vakverbond se woordvoerder, Matthew Parks, sê Amerika se oorlog in die Persiese golf maak die wêreld se oliemarkte wisselvallig:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake twyfel of regeringsondersteuning toestande by sukkelende munisipaliteite verbeter. Die departement het 86-persent van sy teikens bereik en ʼn ongekwalifiseerde ouditmening vir die 2025/2026-boekjaar ontvang. Die komitee se voorsitter, Zweli Mkhize, het kommer uitgespreek oor voortslepende water- en sanitasieprobleme en swak aanspreeklikheid by munisipaliteite:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê die teregstelling van ʼn gewese majoor in die Leër wat in 2009 13 ongewapende soldate by Fort Hood doodgeskiet het, sal regstreeks gestroom word. Nidal Hasan sal in Desember deur ʼn vuurpeloton tereggestel word. Hy het erken dat hy in ʼn stampvol mediese gebou losgebrand het op soldate wat op mediese ondersoeke gewag het. Dit sal die eerste militêre teregstelling in Amerika wees sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. BBC berig daar word nog gewag op presidensiële goedkeuring en ʼn appèl-hersiening.
# Motorsport: ‘n Hitte-waarskuwing is vir die naweek se Formule Een-Grand Prix in Singapoer uitgereik. ‘n Waarskuwing was ook van krag vir verlede naweek se wedren in Maleisië en geld nou vir die vierde wedren vanjaar. Dit word uitgereik wanneer daar verwag word dat temperature 31 grade Celsius gaan oorskry. Spanne word dan toegelaat om verkoelingstelsels in hul motors aan te bring wat vloeistof deur die renjaers se onderhemde pomp om die hitte te reguleer. Formule Een monitor ook luggehaltekwessies weens rookmis wat deur brande in Indonesië veroorsaak word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-423-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-182-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 105-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….