Nuus 09:00
BULLETIN 27 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA gaan die regering se appèl teen die beurtkrag-uitspraak teëstaan
# Die VF Plus waarsku teen ernstige gevolge as die waterkrisis nie aangespreek word nie
# En, die ses mense wat ná die Baltimore-brugramp vermis word, is vermoedelik dood
# Die president van ActionSA, Herman Mashaba, sê die party se regsverteenwoordigers gaan die regering en Eskom se appèl teen die beurtkrag-hofuitspraak teenstaan. ‘n Volle regbank van die Noord Gautengse Hooggeregshof het in Desember verlede jaar ‘n uitspraak gelewer dat beurtkrag ongrondwetlik is en beveel dat krag deurlopend aan openbare instellings soos skole, hospitale en polisiekantore verskaf moet word. Die adjunk-woordvoerder van ActionSA, James de Villiers, sê dit is duidelik beurtkrag skend die fundamentele regte van burgers:
# Die Vryheidsfront Plus sê die waterkrisis beklemtoon hoe verwyderd die ANC van die werklikheid is. Die VF Plus sê alles wat die ANC aanraak, verander in ’n totale ramp deurspek met korrupsie en onbevoegdheid. Die party het die regering se plan gekritiseer om ’n nasionale waterhulpbron-infrastruktuuragentskap te stig, en sê onder ANC-bewind is dit gedoem tot mislukking. Piet Mey van die VF Plus doen ‘n oproep dat die privaatsektor betrokke raak om die waterkrisis aan te spreek, en waarsku teen ernstige gevolge as daar nie onmiddellik opgetree word nie.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, sê die departement se begroting ondersteun die provinsiale regering se groei-strategie wat ‘n ambisieuse teiken van ‘n inklusiewe en volhoubare ekonomie met een-duisend-miljard-rand se werksgeleenthede stel. Hy het gister die departement se begroting van een-miljard-rand in die provinsiale parlement ingedien. Meyer sê 38-miljoen-rand is vir vloedskade-ondersteuning begroot, terwyl 57,8-miljoen-rand vir dieregesondheidsdienste bewillig is om dieresiektes te voorkom en te beheer:
# Die Amerikaanse Kuswag het die reddingsoektog na ses werkers wat gister op die Francis Scott Key-brug in Baltimore was toe dit ineengestort het, afgelas. Agt mense het op die brug gewerk toe ‘n vragskip daarteen gebots het. Twee is gered, maar owerhede sê indien die water se temperatuur en tyd wat hulle onder water was in ag geneem word, is die ander ses vermoedelik dood. Al 22 bemanningslede op die skip, Dali, is volgens berigte veilig.
# Sokker: Wallis se kans om vir die Euro 2024 te kwalifiseer is in die wind geslaan na ‘n nederlaag van 4-5 met strafdoele teen Poland in Cardiff. Die wedstryd het na bykomende tyd sonder enige doele geëindig. Daniel James het die enigste skoot na die doelhok gemis wat die doelwagter Wojciechj Szczesny gekeer het, terwyl Poland met al vyf geslaag het. Engeland wat reeds gekwalifiseer het, het intussen in ‘n vriendskaplike wedstryd met twee elk gelykop gespeel teen België op Wembley. Die bestuurder van Wallis, Rob Page, sê ondanks die nederlaag is hy gretig om voort te bou op die spanbouproses wat reeds begin het:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-346-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….