Nuus 09:00
BULLETIN 11 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inter-ministeriële Komitee verskerp sy voorbereiding vir die munisipale verkiesing in November
# Minister Blade Nzimande lei Suid-Afrika se afvaardiging by die 19de Pujiang Innoveringsforum in China
# En, Donald Trump sê kiesers moet voorgee hy is op die stembrief in die middeltermynverkiesing
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die interministeriële komitee vir 2026 se munisipale verkiesing verskerp voorbereidings vir die November-verkiesing. Hy het die komitee ontmoet om vordering te bepaal, samewerking te versterk en die nodige voorbereidings te tref vir die werk wat voorlê. Altesaam 546 geregistreerde partye sal aan die verkiesing deelneem. Hlabisa sê die komitee bly vasbeslote om seker te maak alle planne is doeltreffend, omvattend en waterdig om ‘n suksesvolle verkiesing te verseker wat aan die grondwetlike en demokratiese verwagtinge van Suid-Afrikaners voldoen.
# Die minister vir Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, lei ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging by die 19de Pujiang Innoveringsforum in Shanghai, China, wat vandag begin en tot Maandag duur. Die forum vind plaas binne die konteks van die nuwe bilaterale verhouding tussen Suid-Afrika en China. Die woordvoerder van die departement, Veli Mbele, sê samewerking tussen die twee lande is daarop gemik om inklusiewe ekonomiese groei te bevorder, industriële mededinging te versterk, menslike vermoëns te bou en maatskaplike verandering te ondersteun:
# Die Stad Tshwane moedig inwoners aan om hul uitstaande titelaktes te gaan haal en sodoende die regmatige eienaarskap van hul wonings te verseker. Die metro het tans vier-duisend-792 titelaktes in sy sewe streke wat afgehaal moet word. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Aaron Maluleka, sê dit toon goeie vordering van die tien-duisend-190 titelaktes in Julie 2020, wat beteken die agterstand is met sowat 53-persent verklein:
# President Donald Trump van Amerika het kiesers aangeraai om die middeltermynverkiesing in November te hanteer asof hy self op die stembrief verskyn. Hy het gisteraand die slotrede gelewer by die Republikeinse Party se middeltermyn-konvensie in Dallas. Die verkiesing sal bepaal of die party die meerderheid in die Huis en die Senaat behou. Trump sê die Amerika het hom minder as twee jaar gelede ʼn mandaat gegee om die land te red, en binne 19 maande het hy elke belofte wat hy gemaak het, nagekom:
# Sokker: Manchester United het sy terugkeer na die Kampioeneliga gevier met ‘n indrukwekkende 4-0 oorwinnng oor die nuwelinge Sabah op Old Trafford. Matheus Cunha, kaptein Bruno Fernandes en Benjamin Sesko het in die eerste helfte doele aangeteken, met Lisandro Martínez wat die oorwinning beklink het. Bayern München het sy reputasie as een van die toernooi se gunstelinge gestand gedoen met ‘n 5-0 oorwinning oor Bodo/Glimt in die Allianz Arena. Como het ‘n indrukwekkende debuut gemaak deur RB Leipzig met 4-1 te klop, terwyl Lens moes inhaal om die 10-man Slavia Prague 3-2 te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-928-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-319-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….