Nuus 08:00
BULLETIN 13 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement sê die Departement van Binnelandse Sake moet geloof word vir die toepassing van universele wette
# Numsa verklaar ‘n salarisgeskil in die buspassasiersektor
# En swem, die Suid-Afrikaner Pieter Coetzé bespreek sy plek in die 100-meter-rugslag-finaal in Doha
# Die African Transformation Movement sê die onlangse kennisgewing wat die Departement van Binnelandse Sake uitgereik het, beklemtoon die belangrikheid dat immigrasie-wette gerespekteer en streng nagekom word. Die departement het buitelandse toeriste gevra om die land teen die einde van die maand te verlaat indien hulle teen die 23ste van die maand nog nie die uitslag van hulle visum-hernuwingsaansoeke ontvang het nie. ATM sê hy erken die belangrike rol wat toerisme speel om ekonomiese groei en ontwikkeling te bevorder, maar dit kan nie gebeur terwyl immigrasieregulasies geïgnoreer of nasionale sekerheid in gevaar gestel word nie.
# Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika, Numsa, sê hy het by die Suid-Afrikaanse Padpassasier-bedingingsraad ‘n salarisgeskil teen werknemers verklaar nadat onderhandelings ʼn dooiepunt bereik het. Busmaatskappye wat lede van die raad is, sluit in Putco, Bojanala’ Algoa en Great North Transport. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê van die eise sluit ʼn tien-persent-verhoging vir almal in en volle verpligte gesondheidsorg vir alle werkers in die bedryf:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika het die land se hoogste hof gevra om ʼn Appèlhofbeslissing dat hy nie presidensiële immuniteit teen vervolging het nie, op te skort. ʼn Federale groot jurie het verlede jaar vier klagtes teen hom ingedien vir beweerde pogings om die uitslag van die 2020 presidensiële verkiesing om te keer. Trump het onskuldig gepleit en aangevoer hy kan nie aangekla word vir aksies terwyl hy president was nie. Sy prokureurs sê ʼn uitgerekte misdaadverhoor te midde van die verkiesingseisoen sal Trump se vermoë om sy veldtog te voer ernstig belemmer.
# Swem: Die Suid-Afrikaner Pieter Coetzé is deur na die mans se 100-meter-rugslagfinaal by die Wêreld-swemkampioenskap in Doha. Die 19-jarige swemmer wat goud gewen het by die 2022-statebondspele in Birmingham, het as tweede vinnigste gekwalifiseer vir die aand se finaal nadat hy in die tweede uitdun op 53,07 sekondes eerste was. Erin Gallagher was sewende in die vroue se 100-meter-vlinderslagfinaal terwyl Lara van Niekerk die vroue se 100-meter-borsslagfinaal misgeloop het nadat sy sewende geëindig het in haar uitdun.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-989-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-18-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-2-sent per vat.
# En laastens, dit is vandag Wêreld-radiodag wat gevier word met die tema, Radio: A century informing, entertaining and educating. Die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur sê die dag is ʼn geleentheid om radio as ʼn medium te vier. ʼn Woordvoerder van die organisasie, Tawfik Jelassi, sê Wêreld-radiodag is ook ʼn geleentheid om internasionale samewerking tussen radio-uitsaaiers te bewerkstellig en groot netwerke en plaaslike radiostasies aan te moedig om toegang tot inligting en vryheid van spraak te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….