Nuus 08:00
BULLETIN 9 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee sê daar is nog geen tydlyne vasgestel nie
# Die Madlanga-kommissie bevestig dat Feroz Khan op 1 Julie sal getuig
# En die hoofaanklaer van die Internasionale Strafhof is geskors
# Die voorsitter van die Ampsklagkomitee, Makashule Gana, het gewaarsku teen die voortydige bepaling van sperdatums, maar hoop om die komitee se volgende vergadering te belê voor die Parlement aan die einde van die maand in reses gaan. Die komitee moet bepaal of president Cyril Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging geplaas moet word oor die diefstal van geld op sy Phala Phala-plaas meer as ses jaar gelede. Gana sê die komitee se onmiddellike prioriteite is om die verwysingsraamwerk en lys van getuies te bepaal:
# Die Madlanga-kommissie sê die geskorste adjunkmisdaadintelligensiehoof, Feroz Khan, sal na verwagting op die eerste van volgende maand getuig. Dit volg nadat hy sy dringende hofaansoeke teen die kommissie en die polisie teruggetrek het. Hy het probeer om toegang te blokkerr tot inligting van toestelle wat verlede maand gekonfiskeer is en om dele van die verrigtinge agter geslote deure te laat plaasvind. Die woordvoerder van die kommissie, Jeremy Michaels sê Khan se getuienis is belangrik as gevolg van ernstige bewerings waarby polisiebeamptes betrek word:
# Die Oos-Kaapse Regterpresident, Selby Mbenenge, het ‘n dringende interdik en hersieningsaansoek by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien, waarin hy die bevindinge deur die Regterlike Dienskommissie betwis. Die kommissie het hom skuldig bevind aan growwe wangedrag, wat voortspruit uit bewerings van seksuele teistering deur sy voormalige sekretaresse, Andiswa Mengo. Mbenenge voer in die hofstukke aan die RDK se bevindinge teen hom is irrasioneel. Mbekezeli Benjamin van Judges Matter het aan die SABC gesê dis nie ‘n verrassing dat Mbenenge die howe genader het nie:
# Die Internasionale Strafhof se hoof-aanklaer, Karim Khan, is geskors na ‘n ondersoek oor bewerings van seksuele wangedrag. Die bewerings is in 2024 aangemeld deur ʼn vrou wat by die hof se hoofkwartier in Den Haag, Nederland, vir hom gewerk het. Khan staar tugprosedures in die gesig voordat al 125 lidlande van die Internasionale Strafhof tydens ʼn spesiale sitting oor sy lot sal stem. Khan ontken dat hy verkeerd opgetree het en sê die besluit om hom te skors is onregmatig, prosedureel onregverdig en word nie deur bewyse ondersteun nie.
# Krieket: Engeland en Wallis se Krieketraad ondersoek ʼn oortreding van span-protokolle waarby kaptein Ben Stokes en snelbouler Gus Atkinson betrokke was na Sondag se eerste toets teen Nieu-Seeland. Die twee was Maandagoggend in die vroeë oggendure in ʼn nagklub toe ʼn voorval plaasgevind het. Die raad sê hy soek tans meer inligting. Engeland het ʼn middernag-klokreël vir spelers en personeel ingestel na hul reeks om die As in Australië toe spelers se gedrag van die veld af onder skoot gekom het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-814-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-335-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….