Nuus 08:00
BULLETIN 11 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dis D-dag vir ANC-lede wat dubbele lidmaatskap met die SAKP het
# Die Activists and Citizens Forum sê ANC-lede in die Parlement het die party se waardes, beginsels en missie versaak
# En, Donald Trump noem Iran se jongste voorstel “totaal onaanvaarbaar”
# Dis vandag D-dag vir ANC-lede wat ook lede van die SAKP is. Hulle moet vandag aan die party se sekretariaat sê of hulle in die munisipale verkiesing vir die ANC of SAKP gaan stemme werf. Dit volg na die SAKP se besluit om onafhanklik aan die verkiesing deel te neem. Die party het die ultimatum verlede maand verwerp en sê dis ‘n poging om lede te intimideer en die alliansie te ondermyn. Hy het sy lede aangeraai om die opdrag te ignoreer. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê lede wat nie die opdrag gehoorsaam nie, kan tugstappe verwag.
# Die Activists and Citizens Forum sê die ANC-lede in die Parlement het die waardes, beginsels en missie van die party versaak. Die woordvoerder, Dennis Bloem, sê die Konstitusionele Hof-uitspraak oor President Cyril Ramaphosa se Phala Phala-skandaal is weereens ‘n bewys dat die ANC geen respek het vir die Grondwet van die land of Parlementêre prosesse nie:
# Gauteng se LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, sê die vrystelling van die verslag deur die Gautengse Drankraad se ondersoekkomitee is die begin van ʼn uitgebreide proses om integriteit, aanspreeklikheid en openbare vertroue in die raad te herstel. Die verslag onthul ernstige bestuursmislukkings in die Gautengse Drankraad, insluitend die onregmatige uitreiking van dranklisensies, korrupsie en samespanning met ongereguleerde konsultante. Ramokgopa sê onwettige drankhandel en swak bestuur ondermyn openbare veiligheid en ekonomiese hervorming:
# President Donald Trump van Amerika het Iran se reaksie op die onlangse vredesvoorstel verwerp en as “totaal onaanvaarbaar” beskryf. Teheran het sy reaksie gister voorgelê en volgens berigte sluit dit in dat die oorlog onmiddellik beëindig word en ʼn Amerikaanse see-blokkade verwyder word. Amerika se voorstel sluit in dat Iran se kernverryking gestaak, en vrye deurgang in die Straat van Hormoes herstel word. Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Mike Waltz, het aan ABC gesê Amerika het ʼn baie duidelike rooi streep in sy jongste voorstel:
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Iga Swiatek van Pole, het die vierde ronde van die Italiaanse Ope bereik. Die tweemalige wenner het die Italianer Elisabetta Cocciaretto, verpletter. Sy kom nou teen Naomi Osaka van Japan te staan wat gemaklik met Diana Shnaider van Rusland afgereken het. Elena Rybakina van Kasakstan en die Amerikaner Jessica Pegula het ook seges behaal. In die mansafdeling het die Kroaat, Dino Prizmic, na sy oorwinning oor Novak Djokovic ook die Fransman Ugo Humbert verslaan om die laaste 16 te haal. Die Spanjaard, Rafael Jodar, het die Italiaanse promotorskeuse, Matteo Arnaldi, geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-679-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-687-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….