Nuus 08:00
BULLETIN 4 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verklaar ‘n suksesvolle eerste dag van tweede kieserregistrasie-naweek
# Irak waarsku die Midde-Ooste is op die rand van ‘n afgrond na 40 gedood is
# En, sokker: Ronwen Williams dra Bafana deur na die Afcon-halfeindronde
# Die Verkiesingskommissie se adjunk-uitvoerende hoof, Masego Sheburi, sê die tweede registrasienaweek vir die naderende 2024 nasionale en provinsiale verkiesings, het goed begin. Sebhuri het die jongste inligting oor vordering op die eerste dag verskaf. Hy sê binne vyf uur na die begin van die registrasieproses, is ‘n gladde begin aangemeld. Meer as 99-persent van die sentrums was binne minute van die openingstyd van agtuur aan die gang:
Steeds by verkiesingsnuus: Die Vryheidsfront Plus sê die gewysigde voorgestelde regulasies van die Wysigingswet op Billike Indiensneming wat in die Staatskoerant afgekondig is, is niks meer as ‘n verkiesingsfoefie van die ANC nie. Heloïse Denner van die party sê die holruggeryde perd van apartheid word weer voor die ANC se verkiesingswa ingespan. Sy voeg by die gekalibreerde ideologiese politieke boodskap aan kiesers is dat die ANC die ongeregtighede van die verlede regstel wat apartheid deur dié wet veroorsaak het:
# Amerikaanse aanvalle op 85 teikens by sewe instellings oral in Sirië en Irak, as deel van vergeldingsaanvalle na die dood van drie Amerkaanse soldate in Jordanië, het na wat berig word 40 mense gedood. The Independent berig Irak het die aanvalle as nuwe aggressie teen sy soewereiniteit veroordeel. Amerika het meer as 125 presisie-ammunisie ingespan om bevel-en- beheer operasiesentrums, intelligensiesentrums, en vuurpyle en missiele wat Iran-gesteunde militëre groepe gebruik, aan te val. Irak waarsku die aanvalle sal slegs spanning in die streek verhoog waar daar reeds soveel op die spel is.
# Sokker: Bafana Bafana is deur na die halfeindronde van die Afrikabekertoernooi te danke aan die heldhaftige doelwagter en kaptein, Ronwen Williams. Suid-Afrika het Kaap Verde met 2-1 in ‘n spannende strafdoel-stryd geklop om die laaste vier vir die eerste keer sedert 2000 te haal. Nie een van die twee spanne kon in die 120 minute doele aanteken nie. Williams het Suid-Afrika gered deur vier kolskoppe te stop om sy span die oorwinning te besorg. Bafana kom Woensdag teen Nigerië te staan wat vol vertroue is na hulle Angola in hulle kwarteindronde-kragmeting verslaan het.
# En ten slotte: Pick n Pay het No Name Smooth-grondboontjiebotter, Eden Smooth-grondboontjiebotter en Eden Crunch-grondboontjiebotter, wat landwyd verkoop word, onttrek. Die kleinhandelaar sê alle voorrade van die produkte is reeds uit alle takke landwyd verwyder. Kliënte wat die produkte gekoop het word aangeraai om dit vir ‘n volle terubetaling in te handig, ongeag wat die verstrykingsdatum is en of die produk oopgemaak is of nie. Geen ander grondboontjiebotter-handelsmerk is by die onttrekking betrokke nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….