Nuus 09:00
BULLETIN 20 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa en president Mnangagwa van Zimbabwe vergader
# SAFTU waarsku om nie laer prysstygings met verbeterde lewenstandaarde te verwar nie
# En meer as 100 is dood na ‘n grondverskuiwing by ‘n goudmyn in die Sentraal-Afrikaanse Republiek
# President Cyril Ramaphosa is die gasheer vir sy Zimbabwiese ampsgenoot Emmerson Mnangagwa vir die vierde sessie van die Suid-Afrikaans-Zimbabwiese Bi-Nasionale Kommissie. Die kommissie is daar vir die bestuur en aanspoor van vennootskappe tussen die twee lande. Daar is reeds meer as 33 ooreenkomste en memorandums van verstandhouding tussen die twee lande gesluit. Vandag is die ministeriële ontmoeting met Ramaphosa, en môre met Mnangagwa. Die Presidensie sê die besprekings sal konsentreer op versterking van bilaterale samewerking op verskeie gebiede van gemeenskaplike belang, insluitend handel en beleggings, infrastruktuur en ekonomiese ontwikkeling.
# Die vakbond, Saftu, sê die land se ekonomie word geteister deur hemelhoë werkloosheid, massa-armoede, ongelykheid, trae groei en dalende nywerheids-aktiwiteit. Inflasie het in Julie tot 4,3-persent gedaal teenoor vyf-persent in Junie. Asive Dyani van Saftu sê die medisyne wat voorgeskryf word vir ‘n inflasie-beperkende monetêre beleid, hoë rentekoerse en fiskale besuiniging, word toegedien aan ʼn ekonomie wat reeds deurloop onder chroniese onderbelegging, ʼn afname in nywerhede, armoede en massa-werkloosheid:
# Die Oos-Kaapse LUR van Vervoer en Gemeenskapveilighied, Xolile Nqatha, het ‘n ondersoek na bewerings van afdreiging deur lede van die Mthatha Taxivereniging begin. Hy het gister ‘n vergadering met die vereniging gehou. Die woordvoerder van die departement, Makhaya Komisa, sê die erns van die bewerings wat van die lede van die vereniging teen sommige leiers en lede van die vereniging gemaak het, het die LUR gedwing om ondersoek in te stel:
# Ten minste 107 mynwerkers is dood na ‘n grondstorting by ‘n informele goudmyn in Zamboye in die weste van die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Die owerhede glo die ineenstort van ondergrondse tonnels waar mense gewerk het, kan moontlik die oorsaak wees. Reddingswerkers werk onverpoosd om liggame en moontlike oorlewendes te vind. Hulle is waarskynlik burgers van die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Kameroen. Die mynwerk wat hier gedoen word is ‘n arbeidintensiewe onttrekking van minerale en dis die hoofinkomste van baie huishoudings in die streek.
# Tennis: Die wêreld-nommer-24, Tommy Paul, het die topgekeurde Alexander Zverev van Duitsland geklop om die Cincinnati Ope se kwarteindronde gehaal. Die Amerikaner kom nou teen die Italianer, Flavio Cobolli, te staan wat die Spanjaard, Rafael Jodar, verslaan het. In die vroueafdeling het Iga Swiatek van Pole met Diane Parry van Frankryk afgereken om haar vierde agtereenvolgende kwarteindronde in Cincinnati te haal. Sy sal kragte meet teen die wêreld-nommer-twee, Elena Rybakina van Kazakstan. Die derde gekeurde Amerikaner, Jessica Pegula, het die Roemeen, Sorana Cirstea, naelskraaps geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-282-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-489-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….