Nuus 08:00
BULLETIN 20 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF wil hê die Mpumalanga-polisiekommissaris moet voor die Madlanga-kommissie verskyn
# ‘n Man van Louisiana vermoor agt kinders, insluitend sewe van sy eie
# En gholf: Agathe Laisne van Frankryk wen die Johannesburgse Vroue-ope
# Die EFF het sy kommer uitgespreek oor die aantygings deur die geskorste polisiekommissaris van Mpumalanga, Daphney Manamela. Sy het die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, en die gewese minister van Polisie, Bheki Cele, beskuldig van korrupsie, inmenging by ondersoeke en pogings om te verhoed at sy haar werk hervat. Die EFF sê hy is veral woedend oor haar uitsprake oor die moord op die dogter van die party se adjunkpresident, Godrich Gardee. Manamela beweer die ondersoek na Hillary Gardee se moord is opsetlik ontspoor. Die EFF eis dat Manamela voor die Madlanga-kommissie verskyn.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kritiseer die Sunday Times wat uitgelekte beëdigde verklarings gepubliseer het wat verband hou met ondersoeke na dwelm-verwante misdaadnetwerke in die land. Die koerant het ‘n beëdigde verklaring van ʼn gewilde platejoggie gepubliseer wat ʼn sluipmoordpoging oorleef het en wat verband hou met dwelmhandel in die nagklub-bedryf. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die publikasie van uitgelekte verklarings, veral dié wat besonderhede bevat van getuies, informante en bewyse, stel die veiligheid en lewens van mense wat na vore gekom het, in groot gevaar:
# ‘n Regspraktisyn, dokter Robyn Conradie, doen ‘n beroep op die regering en die Departement van Gesondheid om dringend dienslewering in die openbare gesondheidsektor te prioritiseer. Die Suid-Afrikaanse openbare gesondheidsektor beleef ‘n ernstige finansiële krisis, dikwels beskryf as ‘n fiskale afgrond, gedryf deur chroniese onderbefondsing, beduidende skuld en krimpende skenkersteun. Conradie het aan Newzroom Afrika gesê korrupsie en wanbestuur laat Suid-Afrika se openbare gesondheidsektor in duie stort:
# ʼn Man in Shreveport, Louisiana, het agt kinders, insluitend sewe van eie, doodgeskiet en twee volwassenes gewond. Die kinders was tussen twee- en 14-jaar oud. Owerhede beskryf die skietery wat in drie afsonderlike wonings plaasgevind het, as huishoudelike geweld. Dis die land se dodelikste massaskietvoorval sedert Januarie 2024. ʼn Woordvoerder van die Shreveport-polisie, Chris Bordelon, sê die man wat as Shamar Elkins geïdentifiseer is, is deur die polisie doodgeskiet:
# Gholf: Agathe Laisne van Frankryk het ʼn dramatiese vyfputjie-uitspeelronde teen die Australiër Kirsten Rudgeley gewen en die Johannesburgse Vroue Ope by die Randpark-gholfklub opgeraap. Die twee was na 72 putjies saam met die Suid-Afrikaner, Casandra Alexander, gelyk op 19-onder baansyfer, en moes na die 18de putjie terugkeer vir ʼn uitspeelronde. Alexander was die gunsteling, maar is op die eerste putjie uitgeskakel. Laisne het met ʼn voëltjie op die laaste uitspeelputjie gewen en haar tweede Vroue Europese Toer van die seisoen gebuit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-528-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-792-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….