Nuus 08:00
BULLETIN 31 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê korrupsie en die misbruik van staatsmagte ondermyn staatsbestuur
# Die DA in Gauteng sê premier Lesufi gebruik werksgeleenthede as ‘n verkiesingsmeganisme
# En krieket, Durban’s Super Giants is onder die top-twee na hulle oorwinning oor die Pretoria Capitals
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê korrupsie, misbruik van staatsmagte en wanadministrasie is swakhede wat staatsbestuur, instellings en prosesse ondermyn en wantroue onder die publiek veroorsaak. Hy het by die Suid-Afrikaanse wetgewende sektor se internasionale oorsigberaad in Kaapstad gepraat. Die beraad se doel is om na te dink oor die doeltreffendheid van die wetgewende sektor se rol in die instelling van grondwetlike mandate. Mashatile sê dis belangrik dat parlemente voortgaan om mens-gesentreerde instellings te wees wat die stem van mense na staatsbestuur bring.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Kwaito-legende Arthur Mafokate se aanbod geweier om sy eiendom van ‘n bewaringsbevel vry te stel. Die bevel het gespruit uit ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na die Nasionale Loterykommissie. Mafokate het sy reg op fondse aangevoer, maar die hof het bevind dat sy verduideliking onvoldoende was. Die hof het bevestig dat geld wat gebruik is om ‘n gastehuis te koop, wanbestee is. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die Bate-beslagleggingseenheid kan nou beslag lê op die gastehuis:
# Die DA in Gauteng sê dis duidelik premier Panyaza Lesufi gebruik die werkloosheidskrisis in die provinsie as verkiesingfoefie deur werksgeleenthede aan gewese uMkhonto we Sizwe-lede te bied in aanloop tot vanjaar se algemene verkiesing. Die premier sê hy gaan drie-duisend MK-veterane aanstel om misdaad in die provinsie te help bekamp. Dorianne Arendse van die DA sê dis nog ‘n desperate poging deur Lesufi om sy party se kanse te bevorder om nog vyf jaar te regeer:
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê hy het besluit hoe om te reageer op ʼn dodelike hommeltuig-aanval in die noorde van Jordanië waarin drie Amerikaanse soldate dood is. ʼn Irans-ondersteunde militêre groep het verantwoordelikheid aanvaar vir Sondag se aanval op ʼn Amerikaanse weermagbasis. Biden sê hy moet ʼn balans vind om die oortreders te straf en te beperk sonder om die oorlog in die Midde-Ooste uit te brei. Teheran sê hy het niks met die aanval te doen nie en het nie militêre groepe ondersteun wat meer as 150 aanvalle op Amerikaanse basisse uitgevoer het nie.
# Krieket: Durban’s Super Giants het hulle plek onder die top-twee op die SA20-punteleer verseker met ʼn oorwinning van agt lopies oor Pretoria Capitals op Kingsmead. Die speler van die wedstryd, Matthew Breetzke, het 73 van 46 balle gemoker en die Super Giants het in hulle 20 boulbeurte 174 vir nege op die telbord geplaas. Daarna het snelbouler Junior Dala die beste telling van sy loopbaan behaal met vyf vir 26 lopies om die Pretoria Capitals tot 166 vir nege te beperk. Dala sê hulle dra hierdie oorwinning se momentum oor na Saterdag se kragmeting teen die Joburg Super Kings:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-948-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-33-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….