Nuus 08:00
BULLETIN 30 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Jacob Zuma se skorsing uit die ANC is ‘n jammerte
# Satawu vra vir die uitvoerende hoof van die Transnet Nasionale Haweowerheid se skorsing
# En krieket, die Joburg Super Kings klop MI Cape Town en hou daarmeehulle uitspeel-hoop lewend
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê oudpresident Jacob Zuma se skorsing uit die party is ‘n ongelukkige stap wat die Nasionale Uitvoerende Komitee moes doen. Sy skorsing kom meer as ʼn maand nadat hy sy ondersteuning vir die nuwe uMkhonto weSizwe-party bekend gemaak het. Die NUK het Zuma volgens Reël 25.60 van die party se grondwet geskors. Ramaphosa het aan Newzroom Afrika gesê die ANC kan baie lesse uit hierdie situasie leer:
# Die vakbond vir vervoer- en verwante werkers, Satawu, eis dat die uitvoerende hoof van Transnet Nasionale Haweowerheid, Pepi Silinga, geskors word nadat bewerings van korrupsie en wanbestuur teen hom gemaak is. Hy word beskuldig dat hy sy voormalige werkgewer, die Coega Development Corporation, onregmatig aangestel het om heinings rondom die hawens in Durban, Richardsbaai en Saldanhabaai op te rig. Die koste het volgens berigte van ongeveer 80-miljoen-rand opgeskiet na sowat 300-miljoen-rand. Silinga is op tydelike verlof terwyl die bewerings teen hom ondersoek word. Satawu sê Silinga moet aanspreeklik gehou word.
# Die DA in Johannesburg sê hy is geskok en met afsku vervul deur gister se sluipmoord-agtige skietvoorval by ʼn Rand Water-skenkingsgeleentheid in Zakariyya-park. Die Johannesburg-raad se hoofsweep, Sithembiso Zungu, is gewond en twee ander dood toe verskeie verdagtes die saal waar die geleentheid gehou is, ingestorm en op die mense losgebrand het. Hulle het daarna van die toneel gevlug. Michael Sun van die DA sê die grusame manier waarop die skietery plaasgevind het, is rede tot kommer:
# Japan en Oostenryk het hulle aangesluit by Amerika, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Italië om befondsing aan die VN se Hulp- en Werke-agentskap in Gaza tydelik te staak. Dit volg na bewerings dat 12 lede van die agentskap betrokke was by Hamas se aanval op 7 Oktober in Israel waarin een-duisend-300 mense gesterf het. Meer as 26-duisend mense is in Gaza dood sedert Israel in reaksie daarop ‘n militêre operasie van stapel gestuur het. Japan én Oostenryk doen ‘n beroep dat die bewerings omvattend, vinnig en volledig ondersoek word.
# Krieket: Kaptein Faf du Plessis het die Joburg Super Kings deur middel van die Duckworth Lewis Stern-metode tot ʼn bonuspunt-sege van tien paaltjies teen MI Cape Town gelei in hulle SA20-wedstryd op Nuweland. Die wedstryd is weens reën tot agt boulbeurte per span verkort. MI Cape Town het 80 vir drie in hulle agt boulbeurte behaal. Die Super Kings met ʼn onoorwonne 50 van Du Plessis en Leus du Plooy se 41 nie uit nie, het daarna die teiken in slegs 5 boulbeurte en vier balle bereik. Du Plooy sê hulle is tevrede om steeds in die wedloop vir die uitspeelfase te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-521-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en 31-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….