Nuus 08:00
BULLETIN 22 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moet nog ten minste sewe wetsontwerpe onderteken
# ‘n Studie bevind dat vroeë graadherhaling leerderprestasie kan verbeter
# En die MK-party gaan strafregtelike klagte teen die eThekwini-burgemeester en stadsbestuurder indien
# President Cyril Ramaphosa moet voor die einde van die jaar nog minstens sewe wetsontwerpe as wet bekragtig. Dit sluit in die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette en die Wysigingswetsontwerp op die Verdeling van Inkomste, wat dikwels saam met die begroting voorgelê word en die Immigrasie-wysigingswetsontwerp. Die ander is die Staatsdienswysigingswet, die Wysigingswet op Ekonomiese Regulering van Vervoer, die Wysigingswet op Openbare Administrasiebestuur, en die Wysigingswet op Mariene Oliebesoedeling. Die president het vanjaar talle wette bekragtig, onder meer die omstrede Onteieningswet.
# ‘n Navorsingsverslag van die Universiteit Stellenbosch oor Sosio-ekonomiese Beleid het bevind dat vroeë graadherhaling leerderprestasie kan verbeter en doen nie skade nie. Die studie, gelei deur navorser Ross Clayton, het bevind die herhaling van vroeë grade, veral graad 1 of graad 4, kan akademiese prestasie aansienlik verbeter. Sy het aan Newzroom Afrika gesê die studie waarsku dat herhaling versigtig toegepas moet word weens kapasiteits- en kostebeperkings in skole:
# Die MK-party gaan vandag by die Durban-sentraal-polisiekantoor strafregtelike klagte indien teen eThekwini-burgemeester, Cyril Xaba, en stadsbestuurder, Musa Mbhele. Dit volg nadat vier Durbanse strande gesluit is weens waterbesoedeling as gevolg van rioolstorting. Die party sê die rioolstortings en vervalle afvalwater-infrastruktuur veroorsaak ernstige ekonomiese skade aan toerisme, kleinsakeondernemings en lewensbestaan, veral in die feestyd. Hy beskryf die sluiting van strande as die jongste voorbeeld van die ineenstorting van riool- en afvalwaterbestuur.
# Amerika se adjunk-prokureur-generaal, Todd Blanche, sê die Departement van Justisie sal voortgaan om materiaal uit die duisende lêers wat met die Jeffrey Epstein-ondersoek verband hou en sedert Vrydag vrygestel word, na te gaan en te redigeer. Die departement het ‘n paar nuwe lêers vrygestel, maar ook meer as tien ander wat met Epstein verband hou, van sy webtuiste verwyder. Blanche het in ʼn onderhoud met NBC die besluit verdedig om ʼn foto waarop president Donald Trump is, te verwyder en sê dis om die slagoffers te beskerm:
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, het sy span geloof, al het hulle die reeks om die As teen Australië verloor. Hy sê hulle mededingende gees bly egter ongeskonde. Australië het ʼn 3-0-voorsprong nadat hulle in Adelaide ʼn skitterende oorwinning van 82 lopies in die derde toets behaal het. Engeland gaan probeer om ʼn totale reeksnederlaag te vermy wanneer hulle op Tweede Kersdag in Melbourne die vierde toets aandurf. Stokes sê hulle wil die reeks op ʼn positiewe noot afsluit:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-617-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-388-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….